3 maande gelede
Standfordweg weer afgesper
Paraat: Die polisiebeamptes hou die betogings by Helenvale gister fyn dop.FOTO’S verskaf  ~ 

STANDFORDWEG moes dit vir die tweede keer dié week ontgeld toe die inwoners van Helenvale takke en buitebande aan die brand gesteek en die pad daarmee versper het.

Anders as Maandag, toe die inwoners moeg gesukkel was met waterprobleme, het gister se omgekraptheid oor die werkkontrak gegaan wat die munisipaliteit aan klein, ­middelslag- en mikro-ondernemings (SMME’s) gebied het.

Die projek waarvoor mense aangestel is, was vir sypaadjie-rehabilitasie en algemene padherstelwerk.

Die ontevrede werkers het aan Son gesê hulle het laas jaar begin werk aan paaie soos Standfordweg, asook Voisin- en Martinstraat.

“Die meeste mense het ’n maand gewerk en ander het twee maande gewerk. Daar was nie ’n time limit op die kontrak nie. Vandag (gister) nadat ons gebrand het, hoor ons ons is ge-fire.

“Ons het kontrakte gekry en daar is vir ons gesê om te teken, anders gaan onse pay nie in wees nie. Min het ons geweet dít is wat op ons wag.”

Volgens die werkers is daar teen gistermiddag nog nie eens na die helfte van hul eise gekyk nie.

“Ek weet nie hoe lank dit gaan vat nie. Dit hêlêlê nog hier,” het een bygevoeg.

Kupido Baron, munisipale woordvoerder, sê die Metro is 07:00 gister van die protesaksie by Helenvale ingelig wat die sluiting van Standfordweg tot gevolg gehad het.

“Ons metropolisie is ontplooi om saam met die polisie daar diens te doen.

“Werkers en eienaars van kleinsakeondernemings het ’n afvaardiging na die kantoor van Rano Kayser, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, gestuur met die betrokke wyksraadslid, Pieter Hermaans, ook teenwoordig.”

Volgens Baron is die griewe van die afvaardiging met die nodige erns aangehoor en ’n vergadering is vir Maandag met Hermaans, Kayser en die projekbestuurder gereël om die kwessies te bespreek.

Kayser sê die vergadering is by sy kantoor gehou en hy weet nie van ’n ander vergadering wat ook deur ontevrede werkers by die Gelvandale-polisiekantoor gehou word nie.

“Wanneer ons Maandag met die projekbestuurder vergader, gaan ons die pad vorentoe bespreek.

“Niemand is in hierdie stadium aangestel nie.

“Die mense wat in die vergadering by my kantoor was, het onderneem om Standfordweg oop te maak, maar ek het verneem die pad is nog toe.”

’n Inwoner wat anoniem wou bly, is ontevrede omdat die be­togers nie vir ander ’n geleentheid wil gee om geld te verdien nie.

Inkomste

“Daar is van ons wat elke dag skarrel vir ’n stukkie brood, maar dan is daar hulle wat elke dag gewerk het, en nie ons ook ’n kans wil gee om ook daar iets te verdien nie.

“Die mense wat die projek manage, moes darem een persoon uit elke huis waar daar nie ’n inkomste is nie, gevat het om op die projek te werk,” voeg die inwoner afgehaal by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters