7 dae gelede
Staatsgetuie laat spaander
DEILON MAKOPPA Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

’N DUBBELE moordverhoor kon nie gister in die Baaise hooggeregshof voortgesit word nie omdat ’n staatsgetuie uit die polisie se getuiebeskermingsprogram verdwyn het.

Die getuie was veronderstel om te getuig in die moord­verhoor van Damian Kam­mies (23), Deilon Makoppa (31), Kurt Bosman (29), Christiano Witbooi (19), Ashton Calvert (25) en Warren Steyn (24).

Hulle staan tereg op klagte van moord, poging tot moord, ontvoering, brandstigting, die onwet­tige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, aanranding met die opset om ernstig te beseer en huisbraak met die opset om ’n misdaad te pleeg wat onbekend is aan die staat.

Die reeks klagte spruit uit ’n voorval op 19 November 2016 toe Mohammed Gamieldien “Mielie” Abdullah en Deon Mathys vermoor is.

Adv. Mujaahid Sanden, die staatsaanklaer in die saak, het regter Glen Goosen versoek om ’n lasbrief vir die getuie se inhegtenisneming uit te reik.

Hervat

Sanden het die hof meegedeel dat ’n taakspan onder leiding van ene AO Gouws op die been gebring is om na die getuie te gaan soek.

Goosen het hierop die lasbrief uitgereik.

Toe die hofverrigtinge omstreeks 14:15 hervat word, het adv. Sanden die hof egter meegedeel die span soek steeds na die staatsgetuie.

Die hofsaak is tot vandag uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters