3 maande gelede
Staat trek saak terug teen een beskuldigde
ondersteuners: Ondersteuners van past. Timothy Omotoso gister voor die Baaise landdroshof. Foto: theo jeptha  ~ 

DIE staat het gister die klagte teruggetrek teen een van die drie vroue wat saam met Timothy Omotoso aangekla word.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 22 klagte van onder meer mensehandel.

Omotoso word daarvan aangekla dat hy seksdade met talle jong vroue in Durban en minstens een in die Baai gepleeg het. Die jongste vermeende slagoffer was ten tyde van die beweerde misbruik net 13 jaar oud.

Die pastoor en die vroue het gister weer vlugtig in die Baaise landdroshof verskyn. Gister het die staat die klagte teen Nobubele Mlindi teruggetrek.

Adv. Nceba Ndelwa, die staatsaanklaer, het gesê daar is nie genoeg bewyse wat Mlindi met die saak verbind nie. Sy het haar vroeër aan die polisie oorgegee.

Ndelwa het gesê die staat het ook besluit om voorlopig vyf immigrasieverwante klagte terug te trek wat verband hou met Omotoso se wettige paspoorte.

Die staat het aangedui daar sal ná die verhoor afsonderlik daarna gekyk word.

Die saak teen Omotoso en sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Solani (36) van Durban en Zukiswa Sitho (28), is tot 2 Augustus uitgestel vir ’n voorverhoor in die Baaise hooggeregshof.

Solani en Sitho word daarvan aangekla dat hulle meisies vir Omotoso gewerf en hulle dopgehou het in die huis waarin hulle aangehou is.

Omotoso is sedert April verlede jaar in aanhouding nadat die Valke en die polisie se taktiese-reaksie-eenheid hom op die lughawe in Port Elizabeth in hegtenis geneem het.

Solani en Sitho is vrygelaat op borgtog van R2 000 elk.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters