3 maande gelede
Staal: ‘Geskiet en toe gerob’
Deon Harmse Foto’s: Theo Jeptha  ~ 

TOE Donovan “Staal” Berry se aanvallers op hom losbrand, het hy amper in ’n staatsgetuie se vrou vasgehardloop soos hy probeer het om weg te kom.

Só het die tweede staats­getuie gister in die moordverhoor van Elgershin Go­liath (27), Nealon Redhouse (21), Deon Harmse (25) en Shelton Malgas (26) getuig.

Berry is in 2016 in Barberry-rylaan in Uitbreiding 31 afgemaai.

Gister se staatsgetuie het getuig hy was die oggend van die voorval omstreeks 08:00 besig om water in sy voertuig se radiator te gooi. Sy vrou was op pad na die shop oorkant hulle huis.

Hy het gesê terwyl sy vrou winkel toe gestap het, het hy so 10 tot 15 ouens buite die shop gesien. Die getuie het gesê hy het hulle opgemerk oor hulle so baie was.

“Hulle staan nie gewoonlik daardie tyd van die oggend daar nie.”

Elgershin Goliath

Volgens hom het Goliath in daardie stadium op en af in die pad gestap.

Hy het gesê dié stappery van Goliath het hom laat dink iets gaan gebeur.

Volgens die getuie was Goliath se aandag op die brug gevestig.

Die getuie het vertel toe hy kliek dis gunshots wat afgaan, was sy vrou net besig om uit die winkel uit te stap.

Toe hy na haar toe hardloop om haar te gaan haal, het hy ’n kind op die sypaadjie gesien staan.

Volgens die getuie het al vier die beskuldigdes swart vuurwapens gehad.

Hy het gesê hy kan onmoontlik sê wie die eerste skoot afgevuur het, want almal het tegelyk op hulle teiken geskiet.

Die getuie het bygevoeg terwyl die skieters op Staal losgebrand het, het hulle ook al hoe nader na hom beweeg.

Shelton Malgas

Volgens hom het Staal desperaat van sy aanvallers probeer wegkom.

Die man het getuig hy het gesien hoe Malgas verby Staal hardloop om die kind op die sypaadjie te gaan optel. Terwyl Malgas na die kind toe hardloop het, het hy omgedraai en nog skote afgevuur.

Die hof het verder gehoor Goliath en Harmse het toe agterom die shop gehardloop.

Toe die staatsgetuie en sy vrou in hulle huis kom en deur die venster loer, het hulle gesien Redhouse, Malgas en ’n onbekende man skiet op Staal net daar waar hy gelê het.

Sakke

Volgens hom het Malgas gebuk en deur Staal se sakke gegaan.

Malgas het toe iets uit Staal se sak gehaal.

Nealon Redhouse

Adv. Mark Driman, die staatsaanklaer, het vir die getuie gesê Malgas hou vol hy is nie ’n gangster nie.

Hierop het die getuie geantwoord: “As hý nie ’n gangster is nie, dan is ek God.”

Driman het ook aan die getuie gesê volgens Goliath was hy nie op die toneel nie.

Hierop het die getuie teruggekap en gesê Goliath was die eerste ou wat sy aandag getrek het.

Robin O’Brien, Goliath se regsverteenwoordiger, het dit in kruisondervraging aan die staatsgetuie gestel sy vrou het in haar getuienis niks van Goliath genoem nie.

Hierop het die getuie geantwoord: “Sy’t gesien wat sy gesien het en ek het gesien wat ek gesien het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters