7 maande gelede
Spietkop in traffic geskiet
SKOKKEND: Die verkeersmotor het uiteindelik hier tot stilstand gekom.  ~ Theo Jeptha

’N BAAISE spietkop is gisteroggend in spitsverkeer afgemaai in wat blyk ’n beplande hit te wees.

Verder is ’n vroulike munisipale beampte (43) wat saam met hom in die kar was in die kop geskiet. Sy ontvang tans noodbehandeling in ’n Baaise hospitaal.

Balaklawa

Die voorval het gisteroggend op die hoek van Lungelo Mlandustraat en Victoriarylaan in Walmer gebeur, het kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, bevestig.

“ ’n Onbekende man met ’n balaklawa aan het glo die metro se verkeersvoertuig aan die bestuurder se kant genader. Die voertuig het in daardie stadium stilgestaan. Verskeie skote is op die voertuig afgevuur.

“Die bestuurder (spietkop) het weggejaag en links in Victoriarylaan gedraai. Daarna het hy teen ’n ander voertuig gebots en die pad verlaat.

“Die kar het uiteindelik tot stilstand gekom toe dit teen ’n grensheining gebots het.

“Die beseerde verkeersbeampte het uit die voertuig geklim, langs die voertuig neergeval en is dood.”

Hoewel die polisie gister nog nie amptelik die beampte se naam wou bevestig nie, het Son verneem dit was Dorrington Zola Mati­wane (60) van KwaMagxaki in die Baai.

Met Son se besoek aan sy familie gister was hulle nog te geskok om te praat.

Kort ná die voorval het die polisie ’n 72 uur-aktiveringsplan ingestel. Sake van moord en poging tot moord word ondersoek.

Die polisie versoek enige een met inligting om die Walmer Polisiestasie te kontak by 041 581 1496.

Mense met inligting kan ook die Crime Stop-nommer bel by 08600 10111. Inligting sal vertroulik gehanteer word.

Intussen het die munisipaliteit sy skok oor die voorval uitgespreek. ’n Verklaring lui Matiwane was die afgelope 33 jaar in diens van die verkeersafdeling.

Queenie Pink, mayco-lid vir veiligheid, het haar medelye aan die familie oorgedra.

“Ek glo die polisie sal alles moontlik doen om die moordenaar vas te trek.”

Warren Prins, verkeershoof, sê gister se voorval was weer eens ’n herinnering aan die gevaarlike werk wat wetstoepassingsbeamptes daagliks doen.

“Ons vind troos daarin dat ons kollega gesterf het terwyl hy sy gemeenskap met trots gedien het, maar ons kan ook nie help om te dink dat hy nog net ’n paar jaar oorgehad het voor hy sy aftrede kon geniet nie.

“Hy was ’n gelowige man en sal baie gemis word.”

Dringend

Gustav Rautenbach van die DA het ook sy medelye aan die familie, vriende en kollegas van Matiwane gestuur.

“Die tragedie beklemtoon dat ons dringend ’n safer city summit moet hou om misdaad in die stad aan te spreek. Ek vra reeds sedert Maart verlede jaar dat so ’n summit moet plaasvind.

“Al die partye het saamgestem, maar niks het nog gebeur nie.

“Ons kan nie langer agteroor sit en ons inwoners en beamptes aan die mercy van misdadigers oorlaat nie.”

  • Gisteroggend se voorval kom kort nadat Saterdagaand op ’n 38-jarige spietkop in Acacialaan in Kamesh in Uitenhage geskiet is.

Die beampte was op pad huis toe in sy gemerkte voertuig met sy blou lig aan toe hy ’n man langs die pad sien staan.

Daarna het hy twee skote gehoor en van die toneel weggejaag.

Later by die polisiestasie het hy twee koeëlgate in sy kar se deur gesien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters