18 dae gelede
‘Son’ sak oor die Oos-Kaap

HARTSEER.

Dis hoe baie lojale lesers voel oor die Oos-Kaapse Son wat vandag finaal sy deure sluit.

Ons fotograaf, Theo Jeptha, het vir oulaas deur die provinsie gery en by mense gaan hoor hoe hulle oor hierdie nuus voel.

Wayne September: “Nooit! Son kan nie wil toemaak nie,” sê Wayne September. “Ek kan dit nie glo nie. Son het ál die ander koerante ál die jare uitgestof. Son praat altyd die waarheid van wat in ons gemeenskappe gebeur. Media24 maak ’n fout. Ons mense gaan Son mis.

Lumarsha Bezuidenhout: “Ons hele gemeenskap in Newton in Fort Beaufort spandeer hulle laaste geld om die koerant te koop. Omdat almal nie televisies het nie, was Son maar altyd ons bron van nuus. Nou gaan Son toemaak en ons kan dit glad nie glo nie. Ons is baie hartseer.”

Verrick Erasmus sê: “As ’n musiekonderwyser in die Noordelike areas is ek baie hartseer vandag want ons mense kry ons daaglikse nuus van ons gemeenskappe deur Son koerant. Ek voel ook baie hartseer vir Son se dedicated joernaliste en fotograwe wat ons areas met baie passie gedien het. Dit is inderdaad ’n hartseer dag vir ons as die inwoners van die Baai.

Jude Bodie van Fort Beaufort sê: “Dit is absoluut skokkende nuus. Almal in ons bruin gemeenskappe lees Son. Ons lees nie ander koerante nie en ons het geen begeerte om ander koerante te lees nie. Son is ons enigste bron van nuus. Mense staan tou vir Son daagliks 06:00 in die oggend by die winkel hier waar ek werk in Fort Beaufort. Ek dink Media24 moet ons koerant nog ’n kans gee.”

LAASTE SIEN: Denzil Gallant (links) en Howard Growman lees vir oulaas Son in Schauderville. Foto: Theo Jeptha

Renash Kleinbooi sê: “Die koerant is die enigste bekostigbare koerant wat ons inwoners van die noordelike areas kan bekostig en nou neem hulle dit weg. Dit is glad nie regverdig teenoor ons mense nie. Almal het Son ondersteun, ryk en arm. Ons kinders was daagliks opgewonde om hulself in Son te sien en nou kom dit tot ’n einde. Dit is glad nie regverdig nie en ons doen ’n beroep dat hulle ons koerant sal terugbring na ons mense in Port Elizabeth en die Oos-Kaap.”

Eric Frans sê: “Ek voel glad nie lekker nie. Hoekom hou hulle Son in die Kaap as hulle dit goed vind om Son in die Oos-Kaap toe te maak? Ek koop Son vanaf die begin tot vandag. Ons bruin mense het Son altyd ondersteun en daarom is dit vir ons baie verkeerd dat die deure nou moet toemaak. Ons mense verdien glad nie die slegte nuus dat Son nie meer daar gaan wees vir ons om te lees nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters