5 dae gelede
Smous naby sy huis vermoor
Johnny WesselsFOTO VERSKAF  ~ 

’N VRUGTEVERKOPER se lyk is gisteroggend in ’n veld in die Baaise noordelike gebiede gekry.

Johnny Wessels (47) van Kleinskool is kwalik 50 m van sy blyplek af een keer in die kop geskiet.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê speurders van Bethelsdorp doen ’n beroep op inwoners om hulle te help met inligting oor die moord.

“Daar word beweer dat die lyk omstreeks 08:30 gevind is in ’n oop veld agter ’n scrapyard in Moodley’s Grounds. Hy het ’n koeëlwond aan kant van die kop gehad.”

Johnny se familie het hom Sondag omstreeks 20:00 laas lewend gesien. Hulle is ingelig hy is geskiet en het hulle na die toneel gehaas.

“Iemand het my kom sê my broer is geskiet,” het Alliema Nogambula (58) gister op die toneel gesê. Dit was nie ’n mooi ding om te sien nie. Ek is in skok.

Prys

“Hy was my baby-broer en ek het dit glad nie verwag nie.”

Gert Wessels (48), Johnny se broer, het gesê Johnny was maar min by hulle. Wanneer hy wel ingeval het, het hy vrugte saamgebring, maar steeds teen ’n prys.

Johnny se vriend Siyabulela Jack (38), by wie hy gewoon het, verkoop ook vrugte. Johnny het hom dikwels gehelp.

“Johnny was ’n rustige mens. Hy was ’n laitie toe hy tronk toe is, maar hy het uitgekom.

“Ek was in ’n stadium baie siek en hy het my bygestaan. Hy het steeds bokse vrugte gevat om te gaan verkoop.

“Hy het vyf jaar hier by ons gebly.”

Die motief vir die moord is onbekend en teen druktyd was daar nog geen arrestasies of verdagtes nie.

  • Enige iemand met inligting word gevra om AO Heinrich Minnie te bel by 074 453 2738 of die Bethelsdop-polisiekantoor by 041 404 3005.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters