11 dae gelede
Skote eis talle; ander gewond
COPS: Die polisie ondersoek talle sake van moord en poging tot moord.  ~ 

VERSKEIE misdaadvoorvalle – waaronder drie moorde – is dié naweek by die polisie aangemeld.

In een van die voorvalle is twee mans Vrydagaand in ’n drive-by shooting voor ’n tavern in Despatch­ doodgeskiet.

Die slagoffers is Skhumbuzo Lucas (42) en Xolani Skweyiya (43)

Sers. Majola Nkohli, ’n polisiewoordvoerder, sê die slag­offers het langs die pad gestaan toe ’n insittende van ’n verbygaande wit Volks­wagen Polo op hulle losgebrand het.

Die voorval het voor ’n tavern in Xolile Bottomanstraat plaasgevind.

Een van die mans is op die toneel dood. Die ander een het in die jaart van ’n huis oorkant die tavern inmekaargesak.

Klop

Enigeen met nog inligting oor dié voorval kan sers. Leigh Jacobs by 074 999 8707 bel. Die polisie se Stop Misdaad-lyn kan ook by 086 001 0111 gebel word.

  • In nog ’n voorval Vrydagaand is Luyiso Johnston (37) doodgeskiet.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê Johnston het Vrydagaand 20:00 in sy sitkamer in Pass­manstraat, Booysenpark, gesit toe daar ’n harde klop aan sy deur was.

Johnston wou weet wie dit is. Toe hy geen antwoord kry nie, het hy opgestaan en die deur oopgemaak.

Dis tóé dat daar op hom losgebrand is.

Johnston het in sy kombuis gesterf aan veelvuldige skietwonde.

Die verdagte en motief vir die skietvoorval is in dié stadium onbekend.

’n Moordsaak word ondersoek.

  • In nog ’n voorval het die polisie Vrydagaand 20:00 ge­reageer op ’n skietvoorval in Kayserweg, Uitbreiding 21, Bethelsdorp.

Naidu sê by die polisie se aankoms op die toneel het hulle afgekom op ’n 38-jarige slagoffer wat veelvuldige skietwonde opgedoen het.

Die man was reeds besig om mediese noodbehandeling te kry.

Naidu sê die slagoffer was na bewering op pad na ’n nabygeleë winkel toe drie onbekende mans hom nader,

Een van die mans het ’n gun uitgepluk en op die slagoffer begin skiet.

Die slagoffer is verskeie kere getref, maar kon daarin slaag om weg te hardloop. Hy het inmekaargesak in ’n jaart.

Naidu sê in dié stadium is dit onbekend wie die skieter is en wat die motief vir die voorval is.

’n Dossier van poging tot moord is aangelê.

  • Die polisie ondersoek nóg ’n saak van poging tot moord nadat daar op ’n 21-jarige man losgebrand is.

Naidu sê Vrydagaand omstreeks 19:45 het die klaer saam met vriende buite ’n winkel in Glendinningstraat gestaan.

Bekend

Hy het gesien hoe die verdagte in sy rigting aangestap kom.

Volgens Naidu het die verdagte ’n vuurwapen op die klaer gerig en verskeie skote in sy rigting afgevuur.

Die verdagte het ná die voorval weggehardloop. Volgens Naidu is die verdagte aan die klaer bekend.

Omstreeks 22:00 het lede van die eenheid teen bendes die verdagte in hegtenis geneem waar hy in ’n kar daar naby gesit het.

Die verdagte word aangehou op ’n klag van poging tot moord.

  • In ’n afsonderlike voorval ondersoek die polisie sake van poging tot moord en gewapende roof nadat ’n sekerheidswag (25) van sy dienspistool beroof is.

Die voorval het in Sidwell plaasgevind terwyl die guard aan diens was.

Naidu sê Vrydagmiddag omstreeks 17:00 het die klaer op die hoek van Cadleweg en die Ou Uitenhage-pad in Sidwell stilgehou.

Hy het buite sy voertuig gestaan. Terwyl hy besig was om in sy voertuig te klim het twee onbekende mans hom van agter genader.

Naidu het gesê terwyl die mans nader aan die voertuig gekom het, het hulle op die wag begin losbrand.

Die guard het op die sitplek neergeval.

Die verdagtes het toe in die voertuig in geleun en die guard se 9 mm-pistool gegryp.

Volgens Naidu het die booswigte in ’n ander voertuig geklim en weggejaag.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Fabriek

  • In ’n afsonderlike voorval vra cops in Uitenhage die gemeenskap se hulp in verband met ’n poging tot moord Vrydagaand buite die Volkswagen SA-aanleg in Algoaweg.

Die voorval het 22:00 plaasgevind.

Luidens polisie-inligting was die slagoffer op pad na die voetgangerhek van die fabriek toe skote op hom afgevuur is. Naidu het gesê ’n verklaring moet nog van die slagoffer bekom word.

Volgens haar is die slag­offer hospitaal toe geneem voordat die cops by die toneel aangekom het.

Enige iemand met meer inligting oor die voorval kan speurkapt. Josh Victor skakel by 082 319 9204 of 041 922 0198.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters