15 dae gelede
Skoon water word gemors
DRINKBAAR: Revall Jacobs beduie na die skoon water wat in die straat afstroom.  ~ Theo Jeptha

TERWYL die vlakke van damme wat water aan die Metro voorsien, by die dag afneem, gaan duisende liters skoon water in Arkansasstraat in Missionvale verlore nadat ’n pyp in Desember gebars het.

Volgens die jongste syfers wat Maandag uitgereik is, lyk die vlakke van die vier damme so:

  • Kouga 7,75%
  • Churchill 58,7%
  • Impofu 16,91
  • Groendal 30,11%

Revall Jacobs (33), wat in Arkansasstraat woon, sê wat hom die hartseerste maak, is dat dit skoon water is wat so in die strate vloei.

Niks

Hy sê kinders wat smiddae van die skool af kom en ver moet stap huis toe, drink van die water.

Jacobs sê: “Ons sien op die nuus hoe leeg die damme is, maar die munisipaliteit doen niks nie.”

Volgens hom word die waterlekkasie aanhoudend by die munisipaliteit aan­gemeld, maar vergeefs.

Hy sê wanneer die offi­cials eventually uitkom, kyk hulle net na die probleem en dan waai hulle weer.

Jacobs sê hy voel baie unhappy oor die situasie en hy is boonop baie woedend.

Volgens hom moet hy nou elke oggend die water voor sy huis wegvee.

Watermassa

George Hendricks, wat ook in Arkansasstraat woon, sê ook hy is nou al moeg van die water-issue.

Sophie Koert (62) van Smartie Town sê haar seun, Etienne, wat tans in Oos-Londen is, sê daar is konstant ’n watermassa in sy yard.

Etienne se huis is ook in Arkansasstraat.

Volgens haar het die skoon water tot onder die huis se fondasie gesypel en deur die tiles in die sitkamer opgekom.

Daar is tans twee waterlekkasies in Arkansasstraat.

Koert sê die waterprobleem is so erg dat haar dogter, Anina (34), wat in Etienne se huis bly, haar gevra het of haar twee kinders nie maar by haar kan kom woon nie.

Sy sê haar kleinkinders (14 en 12 jaar oud) woon nou al twee maande by haar in Smartie Town.

Volgens Koert moes haar man, Ivan, in ’n stadium ’n sloot voor Etienne se huis grawe om die water weg te lei.

Teslin Booysen,’n wyksraadslid in Missionvale, sê in die lig van Dag Zero het die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (NMBM) verlede maand altesame 14 kontrakteurs aangestel om die waterlekkasies in die Metro te tackle.

Hy sê in Februarie is dié betrokke waterlekkasie gefix, maar twee weke later toe vloei die skoon water net weer.

Suiwer

Volgens Booysen is die pype in April weer gefix. Dit was nie lank daarna nie toe stroom die water weer.

Volgens hom is daar sowat 50 waterlekkasies in Missionvale. Al die water is suiwer water.

Hy sê hy het ál dié waterlekkasies vroeër aan die kontrakteurs uitgewys.

Booysen sê wanneer inwoners waterlekkasies by die munisipaliteit aanmeld, is die reël dat dit binne 24 uur gefix moet word.

Hy sê: “Ons moet maande wag; ander wag jare.”

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het nie op enige van Son se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters