9 maande gelede
Skoolhoof kry groot afskeid
Cederick van Vuuren  ~ 

PRESIES 38 jaar se swoeg en sweet sal ’n nalatenskap van hardwerkendheid en toewyding agterlaat.

Vrydag het Cederick van Vuuren (60), skoolhoof van die Primêre Skool Bethvale in Bethelsdorp, uit die onderwys getree.

Die skool het ’n spesiale afskeidspaartie vir hom gereël­.­

Ná meer as drie dekades by dié skool is dit nou finaal tyd vir hom om te gaan rus.

In 1981 het Van Vuuren hom by Bethvale aangesluit as onnie. In 1997 het hy die hoof daar geraak.

Sy passie was nog altyd om onderwys te gee en om met kinders te werk.

Vrydagoggend het ál die skool-kids Van Vuuren surprise toe hulle hom buite die skool ingewag het.

Hy het toe saam met hulle vir oulaas skool toe gestap. Dit was vir Van Vuuren ’n baie emosionele oomblik.

vaarwel: Die skoolkinders by die Primêre Skool Bethvale sê vir oulaas koebaai aan hulle skoolhoof.

“Ek kon baie ander goed ook gedoen het, maar ek het die akademiese rigting gekies.

“Vanoggend was vir my ’n aangename verrassing.”

Hy sê voorts hy het altyd die kinders geleer om hulle naaste lief te hê soos hulleself.

Selfstandig

Hy het hulle ook geleer dat watter werk hulle ook al eendag doen, hulle altyd God se gebed moet onderhou.

“God maak nie foute nie – elke­ persoon wat geskape is, is daar vir ’n doel.

“Jy hoef nie ’n titel agter jou naam te hê nie, want solank jy vir jouself en jou gesin kan sorg, is jy selfstandig.”

Nie net het hy die kinders geleer nie, hy het baie van hulle ook geleer.

“Kinders het nie verander oor die jare nie. Dit hang alles af van wat jy doen en hoe jy hulle benader. ’n Mens kan baie leer van kinders as jy hul gedrag waarneem en na hulle luister.”

totsiens: Die Primêre Skool Bethvale het Vrydag ’n afskeidspartytjie vir die hoof, Cederick van Vuuren, gehou. Foto’s: DEON FERREIRA

Van Vuuren het nooit op verlof gegaan nie en die ander onderwysers het sy deur se drumpel platgetrap omdat sy kantoordeur altyd oop was vir almal.

Sy toekomsplanne is net om te rus, aangesien hy ook onlangs gediagnoseer is met ’n chroniese siekte.

“Wanneer ek kyk na foto’s en sien dat die kinders vir wie ek klas gegee het, al aunties en ouers is, voel ek soos ’n museumstuk. Alles kom tot ’n einde.”

Sy wens vir die skool se toekoms is dat die skool sy goeie naam behou en dat mense daar aanhou om hard te werk.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters