27 dae gelede
Skool bly 2 weke toe ná betoging
Nie ons roep: Andrew Johnson (links) en Ralph Blignaut sê die onderwysdepartement het die laaste sê.  ~ 

“ONS het besluit om die skool vir twee weke te sluit, waartydens ons die situasie by die skool in oorsig sal neem en met ouers sal beraadslag oor die pad vorentoe.”

Dít is die boodskap van die skoolhoof en skoolbeheerliggaam (SBL) van die Laerskool Machiu in die Nor­therns.

Die skool sal vandag toe wees vir leerders, maar sommige onnies sal ’n deel van die dag daar wees.

Hierdie reaksie van die skool volg nadat twee SAMRK-monitors en sowat 15 ouers Woensdag die skool met force wou sluit.

Die ouers se woede kom nadat drie Machiu-onnies positief getoets is vir Covid-19.

Een leerder is ook positief getoets vir die virus.

Die ouers was nie hêppie dat die skool vir net drie dae gesluit sou word vir deep cleaning nie.

Die departement van onderwys en van gesondheid weier egter albei om aan die ouers se eis gehoor te gee.

Die skool was Vrydag weer oop en ouers, pleks van leerders, het uitgesteek om hul kinders se tuiswerk te kom haal.

Die organisasies Oneness Ministers Network (OMN) en die Sisonke Gemeenskapsforum (SGF) sê hulle beoog om die Oos-Kaapse departement van onderrig te sue oor hy nie die skool wil toemaak nie.

Die Laerskool Machiu se SBL-voorsitter, Andrew Johnson, sê die ouers se gedrag Woensdag was plein onbeskof en uittartend.

“Hulle (ouers en SAMRK-monitors) het net by die skool opgedaag, sonder om ons te laat weet dat hulle op pad is.

“Ralph Blignaut, skoolhoof, het bevestig dat drie onderwysers en ’n gr. 7-leerder positief getoets is vir Covid-19.

“Een onderwyser is in isolasie nadat sy albei haar ouers aan die dood afgestaan het weens die virus.

“Vyf onnies het meer as een siekte, en ses is by die huis met ’n gewone verkoue.

“Maar ons sal van niemand anders as die departement van onderwys instruksies vat nie.

Baklei

“Ons volg die departement se Covid-19-voorsorgmaat­reëls.

“ ’n Groep van 15 ouers kan nie namens ’n hele skool besluit nie,” het Blignaut gesê.

Hy sê die betrokke ouers moet die issue uitsorteer met die onderwysdepartement en nie met hulle baklei nie.

Apostel William Davids, voorsitter van die OMN, sê skole moet sluit, want hulle is nie gereed vir Covid-19 nie.

Volgens Davids hou die skoolvervoer ook nie by die Covid-19-regulasies nie.

Earl Pillay, die sekretaris van die SGF, sê die hele ontsmettingsproses by skole laat alarmklokkies by hulle afgaan.

“Hoe kan hierdie skoonmakers gewone tekkies dra wanneer hulle skole skoonmaak?

“Hoekom dra hulle nie PPE tydens hierdie skoonmakery nie?” wou Pillay weet.

Prof. Basil Leverment, ’n SAMRK-monitor, sê hy gaan ’n verslag aan die kommissie stuur wat die skool se non-compliance gaan uitwys.

“Die skool gaan beslis toegemaak word,” het hy beloof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters