4 dae gelede
Skool 6 dae in week geteiken
stryd: Die Primêre Skool Kuyga loop erg onder booswigte deur.  ~ 

’N SKOOL in Kuyga in die Baai sit nou al vier weke sonder elektrisiteit en WiFi omdat booswigte aanhoudend daar inbreek.

Linda Masiba, voorsitter van die Primêre Skool Kuyga­ se beheerliggaam, sê die skool het sedert hy sy deure op 9 Julie ná die skoolvakansie heropen het, sowat R34 000 vir herstelwerk gehoes.

Sy sê dié geld kom uit die skool se instandhoudingsfonds.

Uitgeruk

Volgens Masiba target die booswigte hoofsaaklik elektriese bedrading.

Ál die elektriese bedrading in die kragbokse in onderskeidelik die administrasiegebou en kombuis is uitgeruk.

Masiba sê toe die skool sy elektrisiteitstoevoer op 11 Julie herstel het, het dit net ’n paar dae gehou. Op 22 Julie het die boosdoeners weer toegeslaan.

Volgens haar het die boosdoeners verlede week Maandag, Dinsdag, Woensdag, Vrydag, Saterdag én Sondag by die skool ingebreek.

Sy vertel die diewe ruk ook plugs uit die mure om hulle hande op die elektriese bedrading te lê.

Masiba sê buiten die kombuis en administrasieblok, het 26 klaskamers onder die diewe deurgeloop.

Deure word eenvoudig oopgetrap om toegang tot klaskamers te kry.

In die administrasieblok is die plafon op verskeie plekke oopgebreek sodat die diewe toegang tot nog kabels in die dak kan kry.

Volgens haar is die bedrading vir die skool se kring­televisiekameras in Desember verlede jaar herstel.

Sy sê in Maart vanjaar het diewe die kameras se kabels weer gesteel.

Volgens haar is drie klaskamers­ se vensters op 9 Augustus vanjaar uitgesmash.

Deure se slotte word afgesteel – daar is klaskamerdeure wat nie kan sluit nie.

Daar is ook splinternuwe skoolskoene gesteel en die kinders se gesangboekies is aan die brand gesteek.

In die kombuis is ’n deur uit sy kosyn geruk en weggedra.

Volgens Masiba het die skool ’n ruk gelede ’n cleaner gevra om saans watchman by die skool te speel.

Maar dié watch­man het op die eerste aand van sy nuwe job weggehardloop toe diewe daar opgedaag en hom met ’n hamer gedreig het.

Masiba sê onderrig by die skool word gedurig onderbreek omdat kinders vroeg huis toe gestuur moet word wanneer die polisie byvoorbeeld ná ’n inbraak vingerafdrukke moet kom neem.

Volgens haar is onnies erg getraumatiseerd deur die voorvalle omdat hulle vrees die skool kan dalk afgebrand word.

Rdl. Jason Grobbelaar sê dis unfair dat die skool geld uit sy onderhoudsfonds moet gebruik om die skade te herstel.

Oorsigbesoek

Volgens hom gaan hy die provinsiale regering versoek om die herstelkoste te dra sodat die skool sy onderhoudsfonds kan behou.

Grobbelaar het gesê ’n oorsigbesoek gaan ook binnekort aan die skool gebring word sodat die provinsiale regering terugvoer kan kry.

Mali Mtima, ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse onderwysdepartement, het teen laat gistermiddag nog nie op Son se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters