3 maande gelede
Skollies dreig sy ouma
BRADLEY BERGESFoto’s: THEO JEPTHA  ~ 

“SY IS next. Haar kop gaan next val.”

Só lui ’n WhatsApp-dreigboodskap wat ’n ouma van Schauderville via ’n vriendin van haar ontvang het.

Dít nadat die ouma se kleinseun en ’n ander jong man tydens ’n after tears-byeenkoms in haar garage afgemaai is.

Die ouma van Dinsmore-straat is in dié stadium in witness protection.

Sy het gister in die dubbele moordverhoor van Brad­ley Berges (23) van Schauderville en Given Cornelius (27) van Booysenpark begin getuig.

Hulle pleit onskuldig op aanklagte van moord op die ouma se kleinseun Reagan Russell en Reagan Fourie op 4 November 2017.

Die beskuldigdes pleit ook onskuldig op onder meer vier klagte van poging tot moord.

Volgens die ouma was Keith Bowkers, haar seun, se begrafnisdiens op 4 November 2017.

Given Cornelius

Kort ná die funeral, sê sy, het die jonges ’n after tears event in die garage gehou.

Die ouma sê omstreeks 21:00 die betrokke aand het sy in haar sitkamer gesit toe sy skote hoor afgaan.

Volgens haar het sy aanvanklik gedink dis klappers omdat Guys Fawkes die next dag was.

Sy vertel toe sy haar voordeur oopmaak, toe sien sy net vuurvonkies verby haar trek.

Volgens haar het sy terselfdertyd gille vanuit die garage gehoor.

Sy sê iemand het haar toe kom vertel haar kleinseun Reagan is geskiet en “hy lê daar agter”.

Volgens haar het sy toe dadelik na die skiettoneel gestap deur ’n skuifdeur wat na die garage lei.

Volgens haar het Russell daar gelê – tussen ’n kar en ’n muur. Sy sê sy het Fourie nie gesien nie omdat die garage in daai stadium overcrowded was.

Die ouma sê toe Russell nie respond toe sy na hom roep nie, toe sê sy vir haar kinders en haar suster se kinders en hulle vriende wat nog daar rondgestaan het, om Russell hospitaal toe te neem.

Volgens die ouma het sy ook in die voertuig geklim waarmee hulle Russell na die Livingstone-hospitaal vervoer het.

Gordyn

Sy sê die nurses het Russell begin ondersoek nadat hy op die hospitaalbed neergelê is.

“Toe hulle hom wegvat na ’n ander kamer en die gordyn toetrek, toe weet ek hy is oorlede.”

Die ouma sê terug by die huis het hulle Fourie se lyk in die garage aan haar uitgewys.

Toe adv. Garth Baartman, staatsaanklaer, by die ouma wou weet wat die moontlike rede vir die skietvoorval kon wees, het sy geantwoord Keith, haar oorlede seun, was met die gangs deurmekaar.

Sy voeg toe by: “Dalk het die skieters gedink daar is van Keith se pelle in die garage.”

Volgens die ouma is sy in witness protection omdat sy elke dag dreigemente ontvang het.

Sy sê die laaste threat was twee weke voordat sy in die witness protection-program ingegaan het.

Die ouma getuig die outjie wat haar gedreig het, is ook intussen dood.

Volgens haar was die skollie ’n lid van die Spotbouer-bende.

Volgens haar het sy die dreigemente by die polisie aangemeld.

Die saak dien voor regter Irma Schoeman.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters