3 maande gelede
Skok nadat familieman vermoor is
Peter PrinslooFoto verskaf  ~ 

HY WAS eintlik net op pad garage toe om petrol vir sy kar te gaan koop toe hy geskiet is en later dood is.

Peter Prinsloo (34) van Bethelsdorp Uitbreiding 31 in die Baaise noordelike gebiede­ het Maandagaand, sekondes­ nadat hy geskiet is, by ’n random huis in­gestrompel met ’n koeëlwond in die maag.

Hy het toe glo nog die petrolkan in sy hand vasgehou.

Prinsloo se vriend Esra Jordaan van Bloemendal was op die toneel.

“Ek was op pad werk toe vir nagskof toe dit gebeur het.”

Hy sê Prinsloo en ’n familielid wat saam met hom was, het by ’n huis in die straat in Bloemendal waar die voorval plaasgevind het, aan ’n deur geklop nadat Peter geskiet is.

“Hulle twee is glo deur ouens gejaag.”

Volgens Jordaan het Prinsloo ’n wond in die maag gehad.

Hy sê hy het die ambulans gebel, maar toe hy weer na Prinsloo gaan kyk, was dit reeds te laat.

Volgens Jordaan was Prinsloo se oë omgedop en daar was skuim aan sy mond.

Jordaan sê Prinsloo was op pad om petrol by die garage te gaan koop toe hy geskiet is.

Jordaan beskryf Prinsloo as ’n baie stil persoon wat baie lief vir sy familie was.

Hy was jare saam met Jordaan in die kerk se jeuggroep.

Prinsloo se familie was nie by die huis by Son se aankoms daar nie.

John Januarie, Prinsloo se buurman van Budliastraat, vertel dieselfde storie. Hulle ken mekaar al langer as 20 jaar.

“Peter was op pad om sy dogter iewers te gaan aflaai toe sy kar sonder petrol gaan staan het. Hy het toe geloop om petrol te koop.

“Hulle het seker soos usual geld gesoek by hom en dis toe hy geskiet is.”

Januarie sê inwoners van Budliastraat het gisteroggend oor die gebeure vergader.

Januarie sê Prinsloo was glad nie betrokke by gangs nie en het met almal oor die weg gekom.

“In ons straat weet almal van almal.

“As iets by ’n huis in die straat gebeur, is almal daar,” het Januarie bygevoeg.

“Ek kan nie aan een rede dink hoekom iemand iets wreeds aan hom sou wou doen nie,” het Januarie gesê.

Prinsloo word oorleef deur sy vrou, drie kinders en ’n kleinkind.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Twee mans het Maandag omstreeks 20:00 na bewering geloop in Scholtzstraat, Bloemendal.

“Hulle was op pad garage toe om petrol te koop.

“Drie mans het hulle genader en hulle geroep.

“Die twee mans het weggehardloop en skote is op hulle afgevuur. Peter Prinsloo, een van die mans, is in die rug geskiet. Hy het inmekaar­geval en is dood.

“Die polisie ondersoek ’n saak van moord.”

Son het tevergeefs probeer om Prinsloo se vrou op haar selfoon te bereik, maar dit was op voice mail.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters