2 maande gelede
Skietmoord: Twee loop hof
Bradley BergesFoto’s: theo jeptha  ~ 

TWEE mans van die Baai se Northerns het gister skuld ontken op onder meer twee klagte van moord.

Die beskuldigdes is Bradley­ Berges (23) van Schauderville en Given Cornelius (27) van Booysen Park.

Hulle het ook onskuldig gepleit op vier klagte van poging tot moord, twee van die onwettige besit van ’n vuurwapen en twee wat verband hou met die onwettige besit van ammunisie.

Hulle word daarvan verdink dat hulle Reagan Russell en Reagan Fourie op 4 November 2017 in ’n garage­ van ’n huis in Dins­morestraat in Schauderville doodgeskiet het.

Russell het kort ná die skietvoorval in die Livingstone-hospitaal gesterf.

Sers. Jean Smith van die polisie se provinsiale eenheid teen bendebedrywighede het gister getuig.

Smith het gesê hy en ’n kollega het daardie middag laat gereageer op ’n klag van ’n skietery by ’n adres in Schauderville­.

Toe hulle by die adres aankom, het gemeenskapslede aan hulle gesê sowat ses slagoffers is gewond.

Smith het gesê hy het verneem dat vyf van die slagoffers met ’n privaat voertuig hospitaal toe gevat is.

Geïdentifiseer

Die gemeenskapslede het aan hom en sy kollega gesê die skietvoorval het in die garage plaasgevind. Die garage­deur was oop.

Smith het getuig: “Toe ons die garage betree, het ons ’n bruin man aangetref. Hy het op sy maag gelê.”

Smith het gesê dié man is as Reagan Fourie aan hulle geïdentifiseer.

Hy en sy kollega het toe beveel dat ál die omstanders die garage moet verlaat omdat hulle die moordtoneel wou secure.

Smith het getuig hulle het bemerk dat Fourie veel­vuldige skietwonde toegedien is. Volgens hom het ambulanspersoneel Fourie op die toneel dood verklaar.

Smith het gesê hulle het altesaam 16 koeëldoppies, vyf projektiele en twee fragments aangetref.

Hy het getuig dat sigbaarheid in die garage goed was, want hulle kon die bewysstukke duidelik sien.

Hulle het op die toneel verneem dat Russell in die hospitaal oorlede is.

Smith het gesê die gemeenskapslede het hulle meegedeel dat die skieters in die rigting van Lawlerstraat gevlug het.

Alibi’s

Berges en Cornelius se regsverteenwoordigers het aangedui dat hulle kliënte se verdediging sal berus op alibi’s.

Die saak dien voor regter Irma Schoeman.

Adv. Garth Baartman is die staats­aanklaer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters