15 dae gelede
Sibbes se twis end tragies
VASGETREK: ’n Man is in hegtenis geneem nadat sy suster vermoor is.  ~  Foto ter illustrasie

’N MAN (49) van Bloemendal in die Baaise Northerns verskyn eersdaags in die landdroshof in verband met die moord op sy suster.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê Sondag omstreeks 19:30 het Verity Monnel (45) en haar broer stry gekry in die sitkamer van hul huis in Bassonstraat, Bloemendal.

Volgens Naidu het die broer en suster die stryery buite voortgesit.

Kort nadat Monnel weer by die huis in is, het haar man (43) gesien haar rug bloei. Sy het toe op die bed gaan lê.

Monnel is oorlede nog voordat sy mediese behandeling kon ontvang.

Haar broer is op die toneel in hegtenis geneem.

Hy word op ’n moordklag aangehou.

Naidu sê die rede vir die stryery is in dié stadium nog onbekend.

  • In nog ’n voorval vra die polisie die gemeenskap om die lyk van ’n tienerseun te help uitken.

Die seun is sowat 16 jaar oud.

Naidu sê sy lyk is Sondagmiddag in ’n oop stuk veld in Jacksonville in die Noordelike Areas aangetref.

Volgens die woordvoerder het ’n lid van die gemeenskap die polisie omstreeks 12:45 laat weet dat ’n bruin man se lyk in ’n oop stuk veld in Jacksonville langs die begraafplaas lê.

Die oorledene het steekwonde aan sy bolyf gehad.

Naidu sê die omstandighede rondom die seun se dood is in dié stadium nog onbekend.

Ten tyde van die tiener se dood was hy geklee in ’n maroen sweetpakbaadjie, ’n blou sweetpakbroek en ’n paar Soviet-tekkies (ankle boots).

Help

Naidu sê enige een wat die polisie kan help in hul ondersoek met betrekking tot die moord op en die identiteit van die oorledene word gevra om speursers. Thandi­swa Nobebe te bel by 067 403 1910 of die polisiestasie in Bethelsdorp by 041 404 3005.

Alternatiewelik kan die Stop Misdaadnommer by 086 001 0111 gebel word of mense kan hul naaste polisiestasie kontak.

Alle inligting is vertroulik en inbellers het die reg om anoniem te bly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters