18 dae gelede
Seun op eie stoep in die kop geskiet
VEROORDEEL: Karen Kemp sê die GPF voel die pyn van die sinlose moorde.  ~ Foto Verskaf

NIE eens Covid-19 kan die killings in die Northerns keer nie.

Toe ’n ouma sien hoe haar gewonde minderjarige kleinkind sy dood nader, het sy flashbacks gekry van haar seun wat in 2010 ook koelbloedig afgemaai is.

Ruwaan Oormeyer-Johnson (16) is Maandagaand in die kop geskiet. Hy is kort daarna in die Livingstone-hospitaal oorlede.

Sy 22-jarige oom is in dieselfde voorval gewond.

Ruwaan was ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Cillié.

Die voorval het omstreeks 20:00 by Ruwaan se ouerhuis in Mpukostraat, Timothy Valley, in die Baaise Northerns plaasgevind.

Ruwaan se ouma Roseline Oormeyer (53) sê kort voor die voorval het hy en sy oom buite op die stoep van Ruwaan se ouerhuis gesit en gesels.

Oormeyer sê soos sy verstaan, het die skieter uit ’n gang te voorskyn gekom, ’n gun uitgepluk en Ruwaan in die kop en elders in sy lyf geskiet.

Die skieter het toe die gun op die oom gerig. Dié was besig om by die huis in te hardloop. Hy is in die agterstewe en been gewond.

Die oom het in die sitkamer inmekaargesak.

Buurman

Kort ná die voorval het ’n ambulans Ruwaan en sy oom hospitaal toe geneem.

Oormeyer sê ná die voorval het haar jongste dogter haar gebel en gesê Ruwaan en sy oom is geskiet.

Volgens Roseline het sy gegil toe sy die nuus hoor en haar buurman gevra om haar en haar man tot by die misdaadtoneel te neem.

Sy sê toe hulle daar aankom, was daar reeds baie mense.

Volgens haar het Ruwaan op die stoep op sy sy in ’n plas bloed gelê. Sy vertel hy het toe nog gelewe.

’n Hartseer Oormeyer sê toe sy haar kleinkind so sien, het sy histeries geraak.

Volgens haar het sy skielik flashbacks kry van Roderique (19), haar seun wat in 2010 doodgeskiet is.

Sy sê Roderique is ook in die kop geskiet.

Oormeyer sê: “Al die memories van wat jare terug gebeur het, het na my teruggekom. Ek weet nie hoe ek voel nie. Ek voel stukkend, gebreek.”

Volgens Oormeyer vat haar dogter Roshaan, Ruwaan se ma, sy dood swaar.

Sy vertel Roshaan sê aanhoudend vir haar dat sy Ruwaan moet gaan haal.

Volgens Roseline sê sy dan maar net vir haar dogter: “Oukei, baby, Ma gaan.”

Oormeyer sê: “Ek weet nie meer wat om vir haar te sê nie, want dis mos onmoontlik.”

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê dis nog nie bekend wie die skieter is of hoekom hy op die twee geskiet het nie.

Die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord.

Karen Kemp, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Bethelsdorp, sê wat gebeur het, is baie hartseer.

Kemp sê: “Ons voel gepynig deur die sinlose moorde.”

Volgens haar moet die gemeenskap meer uitpraat. Kemp sê die polisie doen hul bes om die sake op te los, maar as hulle nie inligting kry nie, kan hulle nie ’n arrestasie maak nie.

Volgens haar moet die gemeenskap meer aktief betrokke raak.

Kemp gaan verder: “Ons voel vir die familie.

“Ons deur staan oop as die familie enige iets van ons verlang.”

Eddie Harker, raadslid vir wyk 38, sê hy is gegrief oor die rigting waarheen sy wyk beweeg.

Volgens Harker is daar elke dag of tweede dag skietvoorvalle. Hy sê Timothy Valley, Frans Valley, Jacksonville en KwaNoxolo is soos ’n oorlogsone.

Ontruim

Hy sê die gemeenskap leef in vrees en hulle kan dit nie meer hanteer nie.

Volgens hom ontruim mense hul huis en verlaat die gebiede omdat crime die hoogte inskiet.

Harker sê munisipale werkers is ook al bang om dienste te lewer, want hulle word beroof of geskiet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters