2 maande gelede
Seun ontvoer by strand
STRES: Lucinda (links) en Chandré Roberts is bekommerd oor Nevin.Foto: THEO JEPTHA  ~ 
ONTVOERING: Die vrou wat haar as Meagan van Schauderville voorgestel het, dra Nevin Roberts Vrydag voordat hulle verdwyn het. FOTO’S VERSKAF

DIT was ’n nagmerrie-naweek vir ’n jong Baaise ma wat gedroom het sy kry haar kleuter se lyk in die veld.

Dít is die nare ervaring wat Chandré Roberts (24), die ma van Nevin Lucraine Roberts (3) van Bethelsdorp Uitbreiding 31, deurgemaak het.

Klein Nevin is gister gekry nadat hy sedert Vrydagmiddag vermis was.

Alles het begin toe Nevin en Lucinda (52), sy ouma, Vrydag strand toe gegaan het om ’n bietjie te ontspan.

Volgens kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, is Nevin ontvoer by ’n strand in Somerstrand, naby die restaurant Something Good.

BEELDMATERIAAL: Die ontvoering-verdagte loop Vrydag in ’n winkelsentrum in Somerstrand.

“Terwyl hulle daar was, het ’n vrou haar aan hulle voorgestel as Meagan van Schauderville. Hulle het gesels en ná ’n ruk het albei vroue na ’n nabye winkelsentrum oorkant die pad geloop om drank te koop,” sê Naidu.

Meagan het 18:00 saam met Nevin na die winkelsentrum teruggegaan om sigarette te koop en het nooit weer teruggekeer nie.

’n Saak is Saterdag by die polisie aangemeld.

Die polisie het dadelik na die winkelsentrum gegaan en beeldmateriaal gekry van waar die vrou met die kleuter loop.

Die polisie het toe die publiek van die ontvoering laat weet.

STRES: Lucinda (links) en Chandré Roberts is bekommerd oor Nevin.Foto: THEO JEPTHA

Kapt. Nomawethu Machewula van die Port Elizabethse eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksmisdrywe is die ondersoekbeampte. Hy het toe verskeie oproepe gekry oor waar die seun is.

“Teen 10:45 het ’n span speurders die kind saam met die verdagte in ’n shack diep in die bosse in Victoriarylaan gekry.

“Volgens die verdagte kon sy nie die kind se ouma kry nadat sy met hom na die winkel toe gegaan het nie, en sy het toe die kind saam met haar geneem.

“Sy kon nie verduidelik hoekom sy nie die polisie gekontak het nie.”

Klein Nevin is gister na die Dora Nginza-hospitaal geneem vir ’n checkup.

“Behalwe dat hy nie geëet het nie, was hy fine. Hy is toe na sy familie geneem,” sê Naidu.

Die verdagte, ’n 25-jarige vrou, sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn op ’n klag van ontvoering.

Kort voordat Nevin gister gekry is, het Chan­dré Son van haar nagmerrie Saterdagaand vertel.

“Ek het gedroom ek vind Nevin met ’n sloot op sy kop in die bosse naby my huis. Dit was pers by sy nek.

“Hy was yskoud en het nog dieselfde klere aangehad.­”

Gister het Chandré plak­kate in Schauderville opgeplak, terwyl Lucinda terug strand toe is om daar na hom te gaan soek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters