3 dae gelede
Seun begrawe ná tref-en-trap
Jesirano Hobanie  ~ Foto Verskaf

MET ’n groot pyn in haar hart moes Jesirano Shavaan Hobanie (9) se mamma, Shevonne (34), haar kind Donderdag in die aarde laat sak.

“Ek voel so-so,” het ma Shevonne by die Malabar Begraafplaas in die Baai se noordelike gebiede aan Son gesê.

“Die wond is nog oop en ek kan nie gerus wees nie, want die een wat dit aan hom gedoen het, is steeds daar buite.”

Weggejaag

Jesirano is laas week dood in ’n tref-en-trap-ongeluk in Beetlestoneweg in Gelvan­dale.

Die drywer van ’n swart VW Golf het na bewering weggejaag nadat Jesirano getref is.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Jesirano is begrawe ná ’n gedenkdiens in die Malabar Gemeenskapsaal.

Sy familielede, asook klasmaats en onderwysers van die Primêre Skool Rufane Donkin, het hom gegroet.

Jesirano se wit kissie was bedek moet kleurvolle blomme.

Past. Lenny Moodley het die diens behartig en die familie trooswoorde gebied.

Moodley het gesê hoewel Jesirano se liggaam nou in die graf is, is sy gees by die Here.

Van die liedere wat gesing is, is “I’ve Reached the Land” en “Be Still and Know”.

Jesirano is beskryf as ’n stil seun, wat soms stout was. Hy het daarvan gehou om met selfgeboude karretjies buite te speel.

Hy was 24/7 saam met sy jonger broer, Juwayne (7).

Juwayne was saam die dag van die noodlottige ongeluk.

Van sy klasmaats het sy kis na die graf gedra.

Vertroos

Elkeen wat wou, kon ’n blommetjie op die kis gooi terwyl dit gesak het.

Shevonne en ander familielede het kort-kort gehuil en mekaar probeer vertroos.

Sy’t die raadslede, begrafnisondernemer, gemeenskap en skool namens die familie bedank vir hulle bystand.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters