2 maande gelede
‘Sê waar, of jy en jou ma sterf’
fikile mengoFoto: theo jeptha  ~ 

HULLE het gedreig om hom en sy ma dood te skiet as hy weier om hulle die adres te gee van die huis in Sherwood waar hy werk.

So lui die bekentenis van Fikile Mengo (20), een van die drie beskuldigdes wat teregstaan vir die moord op Denise Marlene Webber.

Regter Irma Schoeman het gister in die Baaise hoog­geregshof bevind dat Mengo se bekentenis toelaatbaar is.

Die staat het dit toe as ’n bewysstuk ingedien.

Mengo, Thanduxolo Vuma­zonke (23), Mkhuseli Ngqana (29) en Sinethemba Nenemba pleit onskuldig op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Sien

In die bekentenis sê Mengo­ twee mans – ene Magura en ene Sine – wat in dieselfde straat as hy woon, het gesê hulle verneem hy werk by ’n huis in Sherwood.

Hulle het toe aangebied om hom die oggend werk toe te vat omdat hulle wou sien waar hy werk.

By ’n bushalte het hulle ’n vrou opgetel wat hom vroeër gevra het om te help met werk by dié huis omdat sy swanger was.

Mengo beweer terwyl hy besig was om vensters te was, het hy gesien Sine en ’n onbekende man – albei met vuurwapens – spring oor die huis se muur.

Volgens hom het die on­bekende man ’n vuurwapen op die “lady” in die kombuis gerig en haar beveel om op die vloer te lê. Toe sy gehoorsaam, het hy haar met cable ties vasgebind.

Mengo beweer die mans het vir hom gesê hulle gaan aan niks raak in die huis nie, maar dat hý aan alles moet raak.

Whisky

Hy sê Sine en Magura het twee kluise gevat nadat hulle­ die huis deursoek het. Hy beweer Sine het hom toe aangesê om ’n TV-stel van die muur af te haal.

Sine het hom ook aangesê om bottels whisky te vat, sê Mengo. Hy kon net vier bottels vat.

Mengo sê hy is saam met die twee daar weg omdat hulle gesê het hulle gaan hom nie by die huis agterlaat nie.

KORT ná hulle beweerde misdrywe het Fikile Mengo (20) se makkers hom in die kar se kattebak gelaai.

Mengo sê in sy confes­sion toe hy en sy makkers die verkeerslig by Makro nader, het die ander hom in die kar se kattebak gelaai.

Volgens Mengo het hy toe onmiddellik sy ma gebel en haar vertel wat met hom gebeur het.

Hy sê hy het sy ma gevra om die polisie te bel en te sê hulle moet ’n wit Corolla agtervolg.

Volgens Mengo het die mans hom uit die kattebak gelaai nadat hulle gehoor het hy praat oor sy selfoon.

Hy sê nadat hulle hom op die agtersitplek van die kar laat sit het, het die onbekende man ’n vuur­wapen op hom gerig.

Volgens Mengo het ene Magura by sy huis in KwaZakhele die kluise met ’n vyfpond-hamer oopgekap.

Koevert

Hy sê in die een safe was bankkaarte en ID-boekies.

Volgens hom was daar ’n wit koevert met geld in die ander kluis en baie juweliersware.

Hy sê hy en sy ma is toe weer met die dood gedreig.

Volgens Mengo het hy toe maar besluit om eerder nie terug te gaan huis toe nie, maar na ’n vriend in KwaNoxolo.

Hy sê hy het telefonies kontak met sy ma gehad, maar het haar nie meer vertel van sy whereabouts nie.

Nadat sy antie sy ma meegedeel het waar Mengo was, het sy ma en uncle by die betrokke huis op­gedaag.

Volgens Mengo het sy ma en uncle hom gesê om nie te vlug nie, maar eerder na die polisie te gaan en hulle te vertel wat gebeur het.

Hy sê hy’t die ondersoekbeampte by die Kabegapark-polisiestasie ontmoet.

Die verhoor duur voort.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters