6 maande gelede
SAPD kry ‘pynpille en geld op vroue’
VONDS: Die pille en geld wat in die vroue se besit gevind is. FOTO VERSKAF  ~ 

TWEE vroue wat na bewering onwettig met voorskrifpille smous, het hul rieme styfgeloop toe die Baaise cops hulle gevang het.

Lede van die polisie se blitspatrollie het Alrine Muller (38) en Eleanor Julies (31) Sondag gearresteer as deel van hul pogings om dwelmhandel ’n nekslag toe te dien.

Muller en Julies was onder 18 mense wat die naweek in die Baai op dwelmverwante aanklagte gearresteer is.

Polisiebeamptes het ook op dwelms soos Mandrax, dagga en heroïen beslag gelê.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê lede van die blitspatrollie het inligting oor die vroue se beweerde doen en late ontvang. Hulle het die vroue Sondag 11:00 in Standfordweg gewaar.

Naidu sê toe hulle die polisievoertuig sien, het hulle haastig en vinnig by die parkeerarea van die Living­stone-hospitaal ingegaan.

Verduideliking

“Die polisie het hulle deursoek en het 6 000 Stilpane-pille en kontant in hul besit gevind.”

Volgens Naidu kon hulle nie ’n geldige verduideliking verskaf oor hoekom hulle die groot hoeveelheid pille in hul besit gehad het nie.

Muller en Julies is daar en dan in hegtenis geneem op aanklagte van die onwettige besit en verspreiding van voorskrifmedikasie, kragtens die Wet op Medisyne. Hulle het gister in die Gelvandale-landdroshof verskyn en is op borgtog van R500 elk vrygelaat.

Die vroue is van George. Hulle moet op 26 Maart weer in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters