10 maande gelede
SAMRK, ANC help met rapporte
chris nissen Foto: MEDIA24  ~ 

VANDAG word alle ouers wat vir hulle kinders se skoolrapporte moes betaal, genooi om saam met Chris Nissen van die SA Menseregtekommissie (SAMRK) die departement van onderwys te besoek.

Christian Martin, ’n ANC-LP en gemeenskapsleier, sê hy en Nissen sal 11:00 by die departement van onderwys se distrikskantoor in Sidwell in die Baai wees.

“Nissen sal ook na vrae luister en antwoorde gee oor die regskending van skoolgaande leerders wat hulle rapport geweier is omdat hulle ouers nie die skoolfonds kan betaal nie,” sê Martin.

“Dit het ’n jaarlikse krisis geword met baie ouers wat battle om hulle kind se rapport by die skool te kry.

“ ’n Mens moet die effek in gedagte hou wat dié onwettige aksie op jong mense het.

“Baie kinders word dropouts omdat hulle nie hulle rapporte ontvang nie.”

Hy meen ’n leerder wat deur die Desember-vakansie moet gaan sonder om ’n rapport te kry, word benadeel.

Geforseer

Martin sê dis oor hulle nie daai bevrediging kry om te weet hulle het gevorder na die volgende graad toe nie.

“In ander gevalle word ouers gedwing om hulle enigste inkomste, wat baiekeer net uit ’n maatskaplike toelaag bestaan, te gebruik om hulle kinders se rapporte te kry.

“Dit laat hulle met honger mae totdat die volgende toelaag in Januarie uitbetaal.”

Die verhouding tussen kind en ouer kan volgens hom ook skeefloop as die ouers nie die skool kan betaal nie.

Hy meen skoolhoofde moet ouers inlig oor hulle reg om aansoek te doen vir vrystelling om skoolgeld te betaal ingevolge die Wet op Skole.

“Diegene wat egter aspris besluit om nie die ouers te help wat daarvoor kwalifiseer nie, maak hulle skuldig aan afdreiging – en hulle oortree die wet.”

Martin meen diegene wat hulle skuldig maak daaraan, moet wettig aangekla word en intern deur die departement van onderwys se dissiplinêre prosesse gaan.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters