9 dae gelede
Ruan se skool neem afskeid
totsiens: Riaan Willemse soen sy seun se foto.  ~ 

OP DIE tafel in die United­ Congregational Church in Windvogel was ’n foto van Ruan Willemse (8) van Booysenpark.

Langs sy foto het ’n kers gestaan, wat sy pa, Riaan Willemse, aangesteek het. Daarna het hy sy seun se foto gesoen.

Klasmaats is deur onnies getroos tydens ’n huldeblyk en selfs die grootmense kon nie hul trane terughou nie.

Klein Ruan is Vrydag koelbloedig doodgeskiet by sy ouers se ’n huis in Booysenpark.

In dié bloedige skietvoorval is twee ander tieners ook van hul families weggeruk en vier ander ernstig beseer.

Die Willemse-gesin het vroeër vanjaar van die Wes-Kaap na die Baai verhuis en Ruan het by die Primêre Skool Republiek aangesluit as ’n gr. 2 leerder.

In sy kort tydjie by dié skool het hy diep spore getrap met sy oop glimlag, grappies en gehoorsaamheid.

onthou: Rozuan Luiters, Ruan Willemse se klasjuffrou, en sy klasmaats lewer ’n huldeblyk. Foto’s: deon ferreira

Daarom het die skool gister ’n spesiale gedenkdiens gehou.

Rozuan Luiters, Ruan se juffrou, het saam met sy beste maatjies ’n huldeblyk gelewer.

Hy is beskryf as ’n kind met ’n goeie gesindheid, goeie maniere en ’n onvergeetlike glimlag.

“Ek het Ruan beskou as ’n rolmodel. Ek onthou hoe ons Vrydag in die klas gelag het.

“Min het ek geweet dit sal sy laaste wees. Hy het altyd eerste gelag vir my grappies – dit voel asof ek een van my eie kinders verloor het,” sê Luiters met trane in haar oë.

Sy het ook ’n koevert met klasmaats se briefies daarin aan Ruan se pa oorhandig.

Ruan se ma kon nie die gedenkdiens bywoon nie omdat sy nog in die hospitaal is met ernstige beserings.

Daar is gesê die betekenis van Ruan se naam is iemand wat jou hart sal steel en iemand wat altyd vir grappies sal lag. Sy naam beteken ook hy is verdraagsaam en wil ander mense help.

Nog ’n spreker, Frida Daniels, se boodskap was dat hoewel daar storms in jou lewe kom, Jesus sy kinders altyd daardeur sal dra.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters