4 maande gelede
Rooftog: Polisie trek drie vas
Brig. Ronald Koll  ~ Son

VINNIGE optrede deur die cops in Uitenhage het daartoe gelei dat drie vermeende rowers vandag agter tralies sit.

Kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, sê dié arrestasies kom nadat ses verdagtes, van wie een ’n vuurwapen gehad het, Maandag om 16:20 by ’n besigheid in Caledonstraat, Uitenhage, ingegaan het.

Gespring

Hulle het ’n werker daar toe aangesê om hulle na die bestuurder te vat.

Daar het die verdagtes ’n sak geld wat gedeponeer sou word sowel as die geld in die kasregisters geëis.

Die ses verdagtes het toe glo in ’n wit Mazda Midge gespring en weggejaag.

“Wakker polisiebeamptes wat met patrollie besig was, het die voertuig gesien en nadat hulle van die rooftog in kennis gestel is, het hulle die voertuig onmiddellik agternagesit.

“Hulp van ander polisiebeamptes is ingeroep en die voertuig is in Shortstraat in die dorp afgekeer.”

Die verdagtes het toe uit die voertuig gespring en in verskillende rigtings gehardloop.

Beamptes het daarin geslaag om drie van die verdagtes te arresteer en ’n fake vuurwapen af te neem. ’n Sak met die gesteelde geld in is ook teruggevind.

Die polisie het ’n 72 uur- aktiveringsplan in plek gesit en ’n span beamptes is tans op die spoor van die oorblywende drie verdagtes.

Die drie verdagtes, wie se ouderdomme wissel van 19 tot 25 jaar, word aangehou op ’n klag van gewapende roof. Hulle sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Speurders volg alle moontlike leidrade op om te kyk of enige van die verdagtes met ander sake verbind kan word.

Brig. Ronald Koll, waarnemende klusterbevelvoerder, was vol lof vir die beamptes se goeie werk wat tot die arrestasies gelei het. Hy het die speurders wat aan die saak werk, gevra om seker te maak die oorblywende drie rowers word ook gevang.

  • Enigeen met inligting oor die rooftog word gevra om die polisie te bel by 041 996 3438.

Inligting kan ook deurgegee word op die polisie se Crime Stop-lyn by 08600 10111.

Inbellers mag anoniem bly en alle inligting sal streng vertroulik gehanteer word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters