11 maande gelede
Rioolwater ’n risiko
katvoet: Tracy Grootboom is die ene konsentrasie.  ~ 

KERSFEES en Nuwejaar was maar onaangenaam vir sommige inwoners van Martinstraat, Helenvale, in die Baai se northern areas.

Dis omdat rioolwater heeltyd in hul jaarts opgedam en dan soos ’n rivier straataf gevloei het.

Talle kinders sit met maagpyn of sere aan hul lyf. Hulle ouers vermoed dis omdat hulle in aanraking gekom het met die rioolwater.

Omgekrapte in­woners moan oor hulle­ hul deure en vensters moet toe hou vir die ondraaglike stank.

Party inwoners se dreine wel so erg op dat hulle op planke by die voordeur moet uitstap.

siesa! Wayne Munnick se jaart lyk soos ’n meer.Foto’s: theo jeptha

René Witbooi (42) bly haar hele lewe lank in Martin­straat.

Witbooi sê die hoofdrein in haar jaart gee al lankal probleme, maar dat hulle sedert 13 Desember “in dié gemors is”.

Witbooi moan: “Dis nie lekker nie, want ons het twee dreine in ons jaart en my vierjarige kleinkind raak konstant siek.”

Sy sê sy en haar bure het die munisipaliteit aanhoudend gebel.

“Op die 23ste het werkers van die munisipaliteit uitgekom, maar hulle het nie veel gedoen gekry nie,” beweer Witbooi.

“Verlede week het hulle met hulle­ trok voor die huis kom stop en gesê hulle gaan nou weer kom. Hulle het nooit teruggekom nie.”

Tracy Grootboom (30) sê die probleem raak nou te erg vir haar. Sy worry oor sy klein kinders het met ekseem en asma.

Grootboom sê: “Daar is wurms in die water. Dit veroorsaak dat die mense blase op hul voete ontwikkel en sere op hul vel kry. Krismis was regtig nie nice nie.”

Haar man, Leonard (34), sê hulle kan nie eens hul toilette gebruik nie, want die water daarin wel op. Hy sê hulle moet familielede se toilette gaan gebruik.

Leonard sê die munisipaliteit maak die dreine soms skoon, maar binne vyf dae is alles weer onder riool.

Meer

Hy moan: “Dis nie gesond vir die kinders nie en hulle Desember is gespoil omdat hulle nie buite kon speel nie.”

Wayne Munnick (45), wie se hele erf soos ’n meer lyk, sê: “Dis ’n hoofdrein. As hulle dit in die eerste plek net reggemaak het, sou ons nie nou dié probleem gehad het nie.

“Die verstoppings beweeg hoër op in die straat. Die munisipaliteit moet iets doen.”

’n Munisipale woordvoerder, Mthubanzi Mniki, sê hy sal ondersoek instel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters