11 maande gelede
Resultate nog nie bekend
Mark Minnie  ~ 

DIE nadoodse ondersoek op die oud-polisiespeurder en skrywer Mark Minnie (58) is Dinsdag afgehandel.

Die uitslag van dié ondersoek was egter teen gister nog nie bekend nie, sê kapt. Johan Rheeder, ’n polisiewoordvoerder.

Ballistiese toetse word ook op Minnie se hande gedoen om vas te stel of daar gun shot residue op hulle is.

Dít om die bewerings dat Minnie selfmoord gepleeg het deur homself in die voorkop te skiet, vas te stel.

Minnie se lyk is Maandag 20:50 in die Theescombe Roses-plaashuis in Venterstraat, Theescombe gevind.

Tot dusver sê die polisie geen misdaad is gepleeg nie en dit wil voorkom of die medeskrywer van The Lost Boys of Bird Islandinderdaad selfmoord gepleeg het.

Minnie, wat van Port Elizabeth is, maar deesdae in China as ’n Engels-onderwyser gewerk het, is in die kop geskiet.

Oproep

Hy was ’n polisiespeurder in die 1980’s en het volgens sommiges vir sy lewe gevrees ná die bekendstelling van die boek verlede week.

Hy het Maandag omstreeks 09:00 ’n vriend op die plaas besoek.

Die vriend het hom gelos om te rus en hy het saam met sy werkers gaan kuier.

Om 21:00 het die vriend ’n oproep van Minnie se vriendin ontvang. Sy wou weet waar hy is.

Hy is toe terug huis toe. Minnie was nie in sy kamer nie. Hy het hom gaan soek en hom buite naby ’n bos gevind – hy is in die kop geskiet. ’n Vuurwapen het langs hom gelê. ’n Selfmoordbrief is op die toneel gevind.

Die polisie het bevestig die wapen is nie Minnie s’n nie, maar dié van sy vriend.

Minnie en Chris Steyn het onlangs ’n boek bekend gestel waarin apartheidsministers daarvan beskuldig word dat hulle verskeie kinders in die jare tagtig op Bird Island gemolesteer het.

Die boek beweer dat die minister van verdediging daai tyd, wyle Magnus Malan, en wyle John Wiley, die minister van omgewingsake daai tyd, betrokke was.

Nog ’n staatsbeampte wat nog lewe en wyle sakeman Dave Allen het glo ook jong seuns gemolesteer op visvanguitstappies op Bird Island naby Port Elizabeth.

Minnie en Steyn sê in die boek die polisie het destyds ondersoeke na die beweerde pedofiel-sindikaat gestop.

In die boek word onder meer beskryf hoe ’n jong seun hospitaal toe moes gaan nadat ’n gun in sy anus opgedruk en afgevuur is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters