4 dae gelede
Regsman dodge net één bullet
Aangekla: Thozama Takane neem gister sy plek in in die beskuldigdebank in die Baaise handelshof.Foto’s: THEO JEPTHA  ~ 

’N BEDROGKLAG is gister in die Baaise handelshof teen ’n staatsaanklaer van die Uitenhage Landdroshof teruggetrek.

Maar intussen staar ’n klag van korrupsie die beskuldigde, Thozama Takane, nog in die gesig.

Landdros Johannes Claassen het die bedrogklag laat vaar nadat die verdediging ’n aansoek om ontslag gebring het.

Redes

Claassen het in sy kort uitspraak oor die bedrogklag gesê ’n enkele getuie is gebruik. En volgens hom was daar teenstrydighede in dié getuie se getuienis.

Om dié rede het hy die bedrogklag laat vaar.

Oor die klag van korrupsie het hy egter gesê daar is direkte bewyse oor die lokval wat vir die beskul­digde gestel is.

Volgens Claassen is daar ’n prima facie-saak met betrekking tot die korrupsieklag.

Takane se hofverskyning spruit uit ’n voorval toe hy Luvuyo Bokwe en Nxaxho Crosby vervolg het nadat hulle aangekla is van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Luidens die klagstaat het Takane aangebied om die saak van die hofrol te laat verdwyn in ruil vir R1 500 van Bokwe en Crosby.

Bokwe en Crosby het ingestem om Takane dié bedrag te betaal waarna hy (Takane) die saak teen die twee mans na bewering teruggetrek het.

Kort hierna het Bokwe en Crosby dié beweerde voorval by die polisie aangemeld.

Takane is in hegtenis geneem nadat Bokwe die beweerde omkoopgeld van R1 500 aan hom betaal het.

Die voorval het in die tydperk 23 April tot 26 April 2018 plaasgevind terwyl Takane in diens van die nasionale vervolgingsgesag was.

Die bedrogklag (alternatiewelik diefstalklag) spruit uit ’n voorval op 25 Januarie 2018, toe Criento Zenza in Uitenhage aangekla is.

Luidens die klagstaat het Takane toe Criento se ma, Magda Zenza, versoek om geld in die hande te kry.

Hy het na bewering aan Magda gesê dié geld sou gebruik word om Criento se boete te betaal as hy beboet sou word.

Wanbestee

Magda het toe na bewering R500 aan Takane oorhandig.

Takane het dié geld toe na bewering wanbestee.

Luidens die klagstaat het Takane geweet hy kan nie waarborg dat die hof ’n boete as vonnis sou instel nie en die geld wanbestee.

Die saak is tot 10 Februarie uitgestel.

Die hof het Takane se bail verleng.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters