2 maande gelede
Raad ál minder vir lede
Mlindi Nhanha  ~ 

OOR net meer as ’n week sal Nelson Mandelabaai hoor wat twee voormalige DA-raadslede se lot is.

Dit kom nadat raadslede Trevor Louw en Neville Higgins geappelleer het teen die Baaise hooggeregshof se beslissing in Desember dat hulle nie meer DA-raads­lede is nie.

Die DA het Louw en Higgins hof toe gesleep in ’n poging om hul lidmaatskap van die party te beëindig en hulle met ander DA-raadslede in hulle wyke te vervang.

Regter Elna Revelas het bevind Higgins en Louw is nie meer raadslede nie en die munisipaliteit moet dus vakante poste vir DA-wyksraadslede in wyk 35 en 37 verklaar. Sy het gesê die DA het regmatig opgetree om die twee se lidmaatskap op te skort.

Vasbyt

Peter Neilson, stadsbestuurder, het al ná die uitspraak in Desember twee vakante poste verklaar, maar toe die appèl ingedien is, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) dié verklaring vir eers afgelas.

in die hof: Adv. Anthony Stein en adv. Dali Mpofu skud blad ná Vrydag se verrigtinge. Foto: Theo Jeptha

Op die eerste raadsvergadering in Januarie het die raad besluit Louw en Higgins kan vasbyt totdat hulle appèlsaak afgehandel is.

Vrydag was Louw en Higgins nie in sig nie by die hof nie, maar hulle verteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, het namens hulle ’n appèlaansoek ingedien.

Mpofu het in die hof aangevoer dat Revelas ’n fout begaan het. Hy meen die DA se grondwet is nie gevolg in die beëindiging van die raadslede se lidmaatskap nie.

Luidens ’n berig in Die Burger het Mpofu geredeneer: “As ’n amptenaar in ’n tweestryd gewikkel is oor ’n besluit vir hulle party of die regering, móét hulle met hul gewete stem – al is dit teen hul party.”

Adv. Anthony Stein, wat die DA verteenwoordig, het die appèl teengestaan.

Appèl-tjie te skil: Trevor Louw (links) en Neville Higgins woon hulle laaste raadsvergadering as raadslede by.Foto’s: Deon Ferreira

Die Burger berig verder die DA-woordvoerder in die Oos-Kaap, Mlindi Nhanha, het buite die hof gesê hy is heel optimisties dat die raadslede se appèlaansoek nie suksesvol sal wees nie.

“Die saak is reeds voorheen in diepte voor dieselfde regter bespreek.

“Die DA sien geen gronde waarop dié aansoek kan slaag nie,” het Nhanha gesê.

  • Die uitspraak word op 19 Februarie verwag.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters