5 dae gelede
Polisie tref skieter in sy lies
Kol. Priscilla Naidu.  ~ Son

DIE naweek is daar ’n paar dossiere vir poging tot moord by die polisie aangelê.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Saterdag omstreeks 15:45 was lede van die teenbende-eenheid besig met patrolliewerk in Gelvandale.

Terwyl hulle in Reginald-weg ry, het hulle skote daar naby hoor afgaan.

Toe die cops ’n vierrigting-stopstraat nader, het hulle gesien hoe ’n man in Reginald­weg skote afvuur.

Volgens kol. Naidu het die verdagte op die polisielede begin skiet toe hulle uit hul voertuig klim.

Die polisie het teruggeskiet en die verdagte in die lies getref.

Daar is beslag gelê op ’n Tanfoglio-vuurwapen waarvan die reeksnommer gedeeltelik afgevyl is.

  • Intussen soek die polisie na twee verdagtes wat vermoedelik betrokke was by ’n skietvoorval Saterdagoggend in ’n shack in William Slammert-rylaan in Bloemendal.

Kol. Naidu sê omstreeks 08:00 was die 31-jarige klaer besig om in sy shack te rook toe twee mans die shack binnekom.

Die mans het gevlug nadat hulle op die ou in die shack geskiet het. Volgens Naidu is die man in die arm, been en maag gewond.

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.

Naidu sê die motief vir die skietvoorval moet nog vas­gestel word. Die verdagtes is bekend.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters