17 dae gelede
'Perlemoenstropers' betrap in PE
perlemoen
"In totaal is 1952 eenhede perlemoen, ter waarde van sowat R720 000, teruggekry."  ~ 

DRIE mans is in Port Elizabeth in hegtenis geneem vir die beweerde besit van perlemoen ter waarde van meer as R700 000.

Die arrestasie kom nadat die polisie 'n wenk ontvang het oor stropers in die omgewing.

News24 berig dat polisie Sondag in die vroeë-oggendure inligting ontvang het oor die stropers wat in die Kaap Recife-gebied duik.

Volgens kapt. Sandra Janse van Rensburg, 'n polisiewoordvoerder, het beamptes gesien hoe die perlemoen in 'n wit Opel Corsa gelaai word. Die polisie het die voertuig agtervolg en na pogings om die voertuig te stop het die bestuurder met 'n spoed weggery.

Janse van Rensburg sê twee insittendes het sakke perlemoen uit die bewegende voertuig gegooi.

Die polisie het die bestuurder gedwing om die voertuig te stop, waarna die voertuig deursoek is.

"Drie sakke en twee rugsakke met perlemoen is in die voertuig gevind.

"Die twee sakke wat uit die voertuig gegooi was is ook teruggekry.

"In totaal is 1952 eenhede perlemoen, ter waarde van sowat R720 000, teruggekry." 

Intussen sal die verdagte van tussen 18 en 27 binnekort in die in landdroshof in Port Elizabeth verskyn – News24 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters