2 maande gelede
‘Pay-dispuut lei tot dood’
chaos: inwoners is gefrustreerd oor werkers nie betaal is nie en oor die waterdood van Mario Schutte (5).  ~ 
chaos: inwoners is gefrustreerd oor werkers nie betaal is nie en oor die waterdood van Mario Schutte (5).

’N MA van Kliprand het gister hartverskeurend gehuil nadat haar vyfjarige seun Sondagoggend in ’n gat vol water op ’n construction site – sowat 30 treë vanaf sy ouerhuis – verdrink het.

Mario Schutte se ma, Dorothy (37), sou gisteroggend haar seun gaan inskryf het by ’n kleuterskool vir aanstaande jaar.

Hy was volgens sy ma baie opgewonde daaroor.

Terwyl Dorothy besig was om die gru-gebeure aan Son te skets, het ontevrede inwoners van Kliprand ’n paar treë verder die Ou Uiten­hage-pad met klippe en brandende tyres versper.

hartseer: Sarah Schutte praat oor haar kleinkind.

Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is tans besig om buitetoilette vir die inwoners­ ­van Kliprand te bou.

Omdat die inwoners wat aan die projek werk, nie in Augustus betaal is nie, het hulle besluit om bouwerk te staak.

Mario het juis in ’n gat van sowat 1,2 m diep – wat gegrawe is om pype te lê vir die nuwe toilette – geval en verdrink.

Woedende inwoners het Sondag, nadat Mario se dood rugbaar geword het, van die onvoltooide toilette langs die gat uit woede omgestoot.

Hulle meen as hulle einde Augustus gepay het, was die projek nou al ver gevorder en sou die tragedie nie plaasgevind het nie.

ongeluk: Patrick Walton by die gat vol water waarin Mario Scutte verdrink het. Hier beduie hy met sy regterwysvinger hoe diep die gat is. Op die agtergrond is onvoltooide toilette wat omgestoot is. Foto: theo jeptha

Dorothy was gisteroggend ’n senuweewrak en kon nie ophou huil nie.

Sy sê Sondag so skuins ná 09:00 het sy gaan kuier by ’n vriendin­ – wat nie te ver vanaf haar af woon nie.

Volgens haar het Mario in daardie stadium met maatjies buite gespeel.

Sy sê sowat tien minute later hoor sy mense roep Mario se naam.

“Ek het gehoor hulle skree dis Mario wat in die water lê.”

Dorothy het histeries huis toe gehardloop omdat sy nie haar kind so wou sien nie.

pyn: Dorothy Schutte is platgeslaan deur haar jongste kind se waterdood.

Handjie

Sy sê hy het nog geleef toe hy uitgehaal is, maar is kort daarna oorlede.

’n Buurvrou, wat verkies om anoniem te bly, sê Mario is te hulp gesnel toe ’n vrou verby die gat stap en net sy handjie bo die water sien uitsteek het.

Volgens Dorothy het sy vanaf die huis dopgehou hoe hulle besig was met Mario.

“Ek het nie die moed gehad om daarheen te gaan nie.”

Die hartseer ma sê sy weet tot nou toe nog nie wat presies gebeur het nie.

Dan bars Dorothy weer uit in trane: “Ek kan nie slaap nie, meneer.

“Ek soek net my kind! Dis nou al my derde Grandpa-poeier dié.”

Mario se ouma Sarah (68) sê met rooi gehuilde oë terwyl sy voor haar uitstaar: “Hy gaan nie meer na ons toe kom nie.”

Sumaya Campbell, die council se skakelbeampte vir die bouprojek, sê daar is in Mei vanjaar met die projek begin.

Volgens haar is die doelwit om 72 toilette te bou.

Sy sê sowat 22 inwoners van Kliprand werk aan die projek.

Volgens Campbell het woede opgevlam toe die werkers nie vir hul werk vir Augustus betaal is nie.

Campbell sê die kontrakteur het hulle meegedeel hulle wag op geld van die munisipaliteit om hulle te betaal.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, sê hy weet nie van die aangeleentheid nie.

Hy het egter onderneem om dit op te volg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters