22 dae gelede
Papiere bekyk ná vrou sterf
Maak stem dik: Weziwe Tikana-Gxothiwe het die moord op Lindelwa Peni skerp veroordeel. foto verskaf  ~ 

DIE Oos-Kaapse departement van vervoer sê hy sal nie skroom om die bedryfslisensie in te trek van die taxi-man wat aangekla is van die ontvoering van en moord op sy meisie nie.

LUR Weziwe Tikana-Gxothiwe se uitlating volg nadat Welcome Yose (61) Woensdag in die Oos-Londense landdroshof verskyn het vir die moord op Linde­lwa Peni (43).

Yose word daarvan aangekla dat hy Peni in Chick­en Farm, net buite Oos-Londen, vermoor het.

Hy sal op 23 Junie weer in die hof verskyn vir ’n borgtogaansoek.

Tikana-Gxothiwe se veroordeling van die voorval volg op pres. Cyril Rama­phosa se fel kritiek teen geslagsgegronde misdade tydens sy toespraak Woensdagaand.

Tikana-Gxothiwe het ’n beroep op die regstelsel gedoen dat geen steen onaangeroer gelaat moet word nie sodat oortreders nie op tegniese punte loskom nie.

“Ons staan bankvas agter pres. Ramaphosa se siening dat die straf van mense wat gewelddadig is teenoor vroue en kinders hul hor­rific dade moet weerspieël.

“Ons wil nie eens sien dat sulke oortreders borgtog kry nie, veral as daar oorweldigende getuienis teen hulle is,” het Tikana-Gxothiwe gesê.

Die LUR het ook gesê hulle sal hulle deur die loop van die hofsaak laat lei.

Volgens haar sal hul volgende stap wees om te bepaal of die beskuldigde bevoeg is om oor ’n public transport operating licence te beskik.

Tot dan bly hulle by die veronderstelling van “innocent until proven guilty”, voeg Tikana-Gxothiwe by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters