Verlede maand
Padvark trap prinses dood
troos: Familie wou nie Sondag op die toneel te veel oor die tragiese ongeluk praat nie. Foto’s: Leon Knipe  ~ 

OUMA Jolene Rose weet nog nie haar kleinkind is dood in die ongeluk waarin sy haar heup- en sleutelbeen gebreek het nie.

Die tragiese voorval het vroeg Sondagaand gebeur.

Liyah Afrika (4) het orals saam met haar ouma geloop.

Sondag wou sy en Rose (49) in Elsiesrivier ’n voetoorgang oorsteek.

’n Bestuurder het versuim om stil te hou en het die twee raak gery.

Liyah is weens die impak van die botsing oorlede.

Die helfte van Halt Drive, naby 33rd Avenue, is omstreeks 18:35 afgesper terwyl die nooddienste op die toneel was.

Volgens ’n ooggetuie wat nie sy naam wou gee nie, het die ouma en kleinkind saam gestap. Hulle het die voetoorgang gebruik.

Oorgee

Hy sê: “Die drywer het vinnig gery en nie by die pedestrian crossing gestop nie. Daar was even ’n kar voor hom wat gestop het.

“Hy het ook aangery toe hy sien die mense kom na sy kar toe.”

Die ooggetuie sê hy was kwaad toe die drywer aanry, maar hy dink die mense sou die drywer attack het.

“At least het hy polisie­stasie toe gery en hom gaan oorgee.”

Benewens die verdriet oor meisie se dood, gaan dit ook vir die familie swaar wees om vir die ouma te sê haar liefling-Liyah is oorlede.

’n Familievriend het gister aan Son gesê die familie is nog erg getraumatiseer.

“Liyah was ’n baie spon­tane kind. Sy het dit geniet om saam ander kinders te speel. Ons het haar ‘prinses’ genoem.

“Liyah het altyd saam haar ouma geloop. Sondag was hulle op pad huis toe om ’n antie by die huis te drop.”

Die ongeluk het op pad terug gebeur. Volgens die familievriend gaan die familie Rose eers later inlig oor haar kleinkind se dood.

“Hulle gee haar nog tyd om te herstel.”

Toe Son by die ouerhuis kom, was die familie nog by die hospitaal.

Kapt. FC van Wyk, ’n woordvoerder van die polisie, het die gebeure bevestig. Hy het gesê ’n saak van strafbare manslag is geopen.

Van Wyk het gesê toe ’n bestuurder (49) ’n kar voor hom by ’n voet­oorgang wou overtake, het hy die 49-jarige vrou en kind gestamp.

“Die kind het as gevolg van haar beserings op die toneel gesterf. Die ouma is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.”

Die verdagte verskyn binnekort in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters