2 maande gelede
Padongelukke in Oos-Kaap eis sewe lewens
Accident
Oos-Kaap padongelukke eis lewe van 7 mense.  ~ ter illustrasie

Minstens sewe mense is Vrydag en Saterdag in ’n aantal ongelukke op Oos-Kaapse paaie dood.

Die Oos-Kaapse vervoerdepartement sê drie mense, waaronder twee paramedici, is Saterdagoggend dood in ’n ongeluk tussen ‘n vragmotor en ’n ambulans op die N10 tussen Cookhouse en Cradock.

Unathi Binqose, woordvoerder vir die departement van vervoer, sê die ongeluk het sowat 30km buite Cradock gebeur.

Hy sê een persoon is Vrydagaand dood in ’n kop-aan-kop-botsing tussen ’n bakkie en ’n vragmotor op die N2 naby KwaBhaca.

Die bestuurder van die bakkie, ’n 41-jarige man, is op die toneel dood, terwyl die vragmotorbestuurder ongedeerd daarvan afgekom het.

Binqose sê ’n voetganger is Saterdag in die vroeë oggendure op die N2 naby Idutywa dood, terwyl nog ’n man Vrydag op die R411 naby Mqanduli deur ’n voertuig raakgery is.

Hy is later in die hospitaal dood.

Binqose sê die vroulike bestuurder van ’n Datsun Go is op die N2 naby Oos-Londen dood toe sy Saterdagoggend met n transitovoertuig gebots het.

Die polisie ondersoek sake van strafbare manslag. – algoafm.co.za

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters