2 maande gelede
Pa wil saak verder voer
Luhaven PotgieterFOTO VERSKAF  ~ 

WYLE Luhaven Potgieter (8) se pa gaan nie sy seun se dood net so los nie.

Op 31 Julie 2019 is Luhaven in pouse oorlede op die perseel van die Primêre Skool Astra in die Baaise Northerns toe ’n betonpyp oor hom gerol het.

Volgens die skoolhoof, Helma Boggenpoel, was dit ’n fratsongeluk wat gebeur het toe Luhaven en sy maats by die pype gespeel het.

Gehaas

Sy het bygevoeg dié pype is eintlik die gr. R’s se speelgoedmateriaal wat hulle eenkant gestoor het.

Nadat die pyp oor Luhaven gerol het, het ’n meneer hom na die skool se administratiewe kantoor gedra, waar die ambulans gebel is.

Sy familie het hulle skool toe gehaas, maar Luhaven is dood verklaar.

AO Alwin Labans, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Die pype is vinnig van die skoolterrein verwyder.

Die departement van onderwys het vir Luhaven se begrafnis betaal.

Roelof Potgieter (35), Luhaven se pa, slaap sleg. Hy onthou nog hoe sy bebloede seun daar gelê het.

“Die skool was nalatig, want daardie dag was die onderwysers by ’n afskeid en hulle het volgens my nie behoorlik toesig gehou nie. Dit het op hulle grond gebeur.

“Die plek waar die pype gestoor is, het ook nie eens ’n toe heining om nie. Dit het jare daar gelê,” sê Roelof.

Hy voeg by die skool het hom berading aangebied, maar hy gaan nie, want hy weet hy gaan hom net vererg.

Intussen het die politici Marlon Daniels en Gary van Niekerk aangebied om Roelof te help om die saak verder te vat.

Van Niekerk sê sy party, die Patriotic Alliance, het ’n paar weke gelede ’n plaaslike prokureur genader oor ’n moontlike siviele saak.

“Ons voel iemand was nalatig. Dis net reg dat daar vergoeding is vir die loss van hulle seun,” verduidelik Van Niekerk.

Roelof sê vasbeslote: “Ek wil dit vorentoe vat, want ek kan dit nie so laat nie. Ek mis hom elke dag. Hy was my enigste seun.”

Boggenpoel het gesê sy het geen kommentaar nie en het Son na die Oos-Kaapse onderwysdepartement verwys.

Mali Mtima, woordvoerder van die departement, het die navrae ontvang en moet nog kommentaar lewer.

Die prokureur wat Roelof sal verteenwoordig, is Lineen Swarts van die Baai.

Dié was telefonies onbereikbaar en het ook nie op ’n WhatsApp-boodskap of voice mes­sage gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters