6 maande gelede
Pa se lyk in vlak gevind
verlange: Christopher Jacobs sê hy gaan sy oor­lede pa verskriklik mis.Foto’s: deon ferreira  ~ 

DIS nog ’n raaisel hoe ’n oom van Korsten in die Baaise noordelike gebiede gesterf het.

Sy liggaam is volgens AO Alwin Labans, ’n polisiewoordvoerder, Vrydag omstreeks 13:30 gevind in Bostonstraat, ’n paar strate van sy huis af.

“Booi Tarentaal (63) se liggaam is in ’n oop vlak gekry deur verbygangers. ’n Geregtelike nadoodse ondersoek is begin.

“Die doodsoorsaak sal binnekort bepaal word.

“Geen misdaad word in dié stadium vermoed nie,” sê Labans.

Tarentaal se oudste seun, Christopher Jacobs (35), is platgeslaan.

Hy erken hy drink bier van vroeg af vir die pyn wat hy voel.

“Ek weet dit gaan nie help vir altyd nie, maar vir eers vat dit die pyn weg.

“Ek het wakker geword en gehuil,” sê ’n hartseer Jacobs.

Hy was by die huis ten tyde van sy pa se sterfte en weet ook nou nog nie wat die oorsaak van sy dood is nie.

Hy gaan sy pa se liggaam vandag uitken by die morgue.

“My pa was ’n recycler. Almal het hom as ’n boemelaar gesien, maar hy’t geglo hy maak geld op ’n eerlike manier.

“Dit was sy inkomste om recycled materiaal te verkoop.

“Hy het dit gedoen tot die dag dat hy oorlede is.”

Jacobs sê hy doen dit ook nou, maar hy gaan na mense se huise.

“My pa was ’n mens vir almal en hy was baie close aan die Lord – niks het sy geloof gebreek nie.

“Hy het almal geserve en almal het hom gerespekteer.

“Daai man het my altyd laat goed voel.”

Jacobs se verlangse oom, Michael Rossouw­ (67), is Saterdag ’n week terug oorlede aan natuurlike oorsake. Rossouw en Tarentaal was baie na aan mekaar en volgens Jacobs was sy pa sedert Rossouw se dood baie af

Sowat nege jaar gelede het Jacobs sy broer, Leroy (19), verloor toe hy in Korsten­ doodgesteek is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters