11 dae gelede
Pa moet elke dag sy seun se killer in die gesig staar
Verlore: Carol-Ann en Sebastian Jassen met ’n foto van hulle oorlede seun, Zavier. Foto’s: Theo Jeptha  ~ 

DA-HOëS het gister die treurende familielede van Zavier “Zenneman” Jassen (17) van Voisinweg in Helenvale besoek.

Jassen, ’n kleinnefie van raadslid Pieter Hermaans, het Woensdag 3 Oktober omstreeks 19:30 in Sagardweg gestap toe hy geskiet is.

Volgens die polisie is sy lyk in die straat gevind met ’n koeëlwond in die kop.

’n Saak van moord word deur die provinsiale bende-ondersoekspan ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Jassen was ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Gelvandale.

Volgens sy ouers, Sebas­tian en Carol-Ann, het hy reeds opgewonde beplan aan sy matriekafskeid volgende jaar.

Sebastian sê sy seun was altyd daar om ander te help en dat hy ’n pilaar vir die jong mense in die area was.

Volgens Sebastian loop die skieter steeds vry rond en hy moet hom elke dag in die gesig kyk.

Dís wat dié ouers so grief.

medelye: John Steenhuisen, DA-hoofsweep in die parlement, ondersteun Carol-Ann­ Jassen.

Die vermeende skieter is glo uit op parool en die ooggetuie is tans onder polisie­beskerming.

Aan John Steenhuisen, DA-hoofsweep in die parlement, het Sebastian gesê die jus­tice system fail hulle.

Hy meen die inmates in die tronk het te veel regte.

Hy vertel hoe hy eenkeer gesien het hoe polisiemanne in die straat geloop het. Toe gangsters hulle vuurwapens uithaal, het die polisie­lede weggehardloop.

“Ek het al die polisie gevra of ek die skieter self kan gaan haal en na hulle bring, maar hulle het gesê ek kan nie,” sê Sebastian vir Steenhuisen-hulle.

Steenhuisen meen die polisie­, howe en ondersoekbeamptes moet sulke moordsake prioritiseer.

“Hoe meer die ouens daarmee wegkom, hoe meer motiveer­ dit hulle om dit weer te doen. Ons benodig intelligensiegedrewe operasies,” sê Steenhuisen.

Hy het belowe om antwoorde by Michael Masutha, minister van justisie, te soek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters