21 dae gelede
Pa kies dood ná girl hom dump
HANG: Die liefdesteleurstelling was vermoedelik te veel vir die jong pa van twee.  ~ Foto Verskaf

OM ’N liefdesteleurstelling tydens die lockdown te beleef, kan dit net soveel swaarder maak.

Só ’n ervaring het vermoedelik gelei tot die tragiese einde van Ronnie September se 33 jaar op aarde.

September, onder sy familie en vriende liefdevol bekend as “Spekkies”, het Dinsdagaand ’n einde aan sy lewe gemaak – vermoedelik omdat sy meisie van sowat twee jaar hom nie meer wou hê nie.

Die girl is glo dieselfde aand van haar eks-boyfriend se dood ingelig.

Sy het intussen gevlug en sy kon gister (Woensdag) nie opgespoor word nie.

Son verneem sy is iewers in Kleinskool.

Ná die gru-ontdekking Dinsdagaand was die straat in Missionvale waar September gebly het, vol nuuskieriges.

“Spekkies, nee, man! Nie Spekkies nie,” het ’n neighbour hard in die stilte van die nag gehuil.

Die nuuskieriges is weggejaag toe die polisie uiteindelik opdaag.

September se een niggie, Liezel, was van die eerste mense wat hom gesien het. Hy het nog gehang.

“Jô, dit was so hartseer om hom so te sien hang, rêrig,” het Liezel gehuil.

Sy sê haar neef het in die gebied saam met sy meisie agterin iemand se jaart gewoon.

Maar toe breek die couple blykbaar op en die girl is sak en pak Kleinskool toe.

September was nie een om oor sy feelings te praat nie, sê sy familie.

“Hy was ’n toe boek,” sê Liezel oor haar neef.

“Hy het nie gelike praat nie.”

Dis ook hoe September se ouer suster, Vanessa Jafta, haar broer onthou.

“Hy het nooit gepraat oor sy gevoelens nie. Hy het baie vir homself gehou,” sê Jafta (37). “Ek dink nie ek was al in my lewe só geskok nie.

“Oukei, ons het nou wel onlangs nie rêrig om een vuur gesit nie, maar dis my broer daai. My hart is baie seer. Ons almal is so geskok.”

Jafta vertel haar broer laat twee jong kinders agter – ’n agtjarige seun en ’n driejarige dogtertjie.

Bang

“Maar dis nie saam met die meisie wat nou Kleinskool toe gehardloop het nie,” verduidelik sy.

“Ek weet nie hoekom wil sy (die girlfriend) nie uitkom nie! Vir wat is sy dan bang? Ons soek tog net antwoorde, want ons wil closure hê.”

Prileen, nog een van September se niggies, voeg by: “Sy’s nou net daar wat sy kat en muis speel met ons en verskonings maak dat sy nie taxi fare het nie. Niemand beskuldig haar nie.”

Jafta sê haar broer het ’n brief gelos “met al onse name op”.

Die familie het ’n beroep gedoen op enige een wat kan help om hul geliefde ter ruste te lê. Ná aan trane sê Jafta saggies: “Hy het ongelukkig nie ’n (begrafnis-)policy nie. Ons weet nie wat ons gaan doen nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters