6 dae gelede
Pa geskiet met baba in arms
delano barnard  ~ 

HY HET nog sy kind in sy arms vasgehou toe twee gangsters op hom losbrand en sy lewe net daar kortknip.

Dit was die tweede bendeverwante skietery in twee dae wat in dieselfde area plaasgevind het.

Dillon Barnard (21), ’n jong pa van Bloemendal in die Baaise noordelike gebiede, is Sondagmiddag noodlottig gewond.

’n Bullet het sy vier maande oue baba, Daylin, skrams in die bors getref.

Daylin is gisteroggend uit die hospitaal ontslaan.

Die klein man moes toe saam met sy ma, Elain, inderhaas Loerie toe gaan weens ’n sterfgeval in haar familie.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het gesê: “Daar word beweer dat twee verdagtes wat verbind word met die Hondekoppe-bende om 16:50 gesien is waar hulle in Bibbylaan geloop het.”

Sy het gesê toe die verdagtes voor by die huis instap, het die huismense by die agterste deur uitgehardloop.

“Die verdagtes het ’n slaapkamer binnegegaan waar Dillon Barnard en sy seun gelê en slaap het. Hulle het verskeie skote op Dillon gevuur en hom noodlottig gewond.

“Die kind het ’n skaafwond aan sy bors opgedoen en is met privaat vervoer hospitaal toe geneem.”

Naidu het gesê lede van die sigbare bende-ingrypingspan was in die area en het vinnig gereageer toe hulle skote gehoor het.

Met die hulp van die gemeenskap is die twee verdagtes opgemerk waar hulle tussen huise gehardloop het.

Een van hulle het ’n vuurwapen in sy hand gehad.

“Die een verdagte is te voet en met ’n polisievoertuig agternagesit en is gecorner in ’n jaart in Bardienstraat.

“Beslag is gelê op ’n .38-rewolwer net voordat die verdagte dit op die dak van ’n huis wou gooi.”

Die verdagte is in hegtenis geneem op klagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Dié Hondekop sal vandag in die hof verskyn.

By Son se besoek gister aan Dillon se familiehuis in Scholtzstraat het die trane gevloei.

Hendrik (62), Dillon se pa, is baie hartseer.

Hy het gesê: “Sy meisie, die ma van hul kind, bly in Bibbystraat. Hy het ouder gewoonte Sondag daar ’n draai gemaak om te kyk of hulle oukei is.

“Ek en my oudste seun, Damin Brass (37), het in ’n ander yard in Bibby­straat gesit.

“Ek het toe binnetoe gegaan om vir iets te vra om te eet. Ek het nog met die vrouens in die huis gesels, toe hoor ek vier of vyf skote afgaan.”

Dillon se vriende het geskree hy is geskiet.

Hendrik het gesê hy het twee mans met guns in hul hande gesien wegloop.

“Toe ek daar aankom, het ek gesien hoe my seun op sy maag lê. Ek het aan sy nek gevoel, maar dit was te laat.”

Familievriende het die baba inderhaas na ’n plaaslike hospitaal geneem.

Weggehardloop

Ou skoolvriende en familie van Dillon het op die toneel bymekaargekom.

Delano (18), Dillon se jonger broer, het gesê die verdagtes het ook op hom geskiet.

“Ek het op die stoep gesit. Ek het net weggehardloop toe hulle op my skiet,” het hy met trane op sy wange gesê.

“Ek en Dillon was close en ons het elke dag saam gesit en okkapyp rook.”

Damin het Dillon as ’n liefdevolle en down-to-earth persoon beskryf. Hy was ook ’n barber.

“Almal het hom so geken. Hy was nie een wat gehou het van fights nie en sou dit altyd probeer prevent.

“Al is een gevang, gaan dit nie my broer terugbring nie,” het ’n bewoë Damin gesê.

Hendrik het verduidelik Dillon sou dié week ’n nuwe werk by ’n sekuriteitsmaatskappy begin het sodat hy vir sy kind kon sorg.

Dillon BarnardFOTO VERSKAF
Seer: Hendrik Barnard (62) vertel hoe sy seun voor hom dood gelê het.Foto’s: deon ferreira
delano barnard
hartseer: Delano Barnard (18) huil oor sy ouer broer se dood.

Dillon word oorleef deur sy ouers, vyf sibbe en sy seun.

Die provinsiale polisiekommissaris, genl.maj. André Swart, het die vinnige reaksie van die polisie geprys. Hy het ook die wrede moord en die skietery van ’n kind skerp veroordeel.

  • Jason Muller is Saterdagaand doodgeskiet voor ’n huis in Scholtzstraat. Die provinsiale bende-ondersoekeenheid ondersoek ’n saak van moord. Geen arrestasies is al gemaak nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters