12 dae gelede
Pa by kind se skool geskiet
Skote: Die koeëlgate kan duidelik in die bestuurder se ruit gesien word.  ~ 

’N MAN (43) is gister ­geskiet terwyl hy in Fairview in sy kar gesit en wag het vir sy vrou wat hulle seun (9) by die skool ingevat het.

Kort nadat sy 35-jarige vrou terug was by die donkergrys Audi Q7, het twee gewapende mans na die voertuig toe geloop.

Een van die mans het ’n skoot deur die bestuurder se ruit afgevuur.

Gevlug

Kort daarna het die ander man twee skote deur die ruit geskiet.

Die twee skieters het ná die skietery in ’n wit Volkswagen Polo gevlug.

Die pa, vermoedelik ’n taxibaas van Motherwell, is in die kop, nek en ’n skouer getref. Hy is net daar op die toneel dood.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dié skokkende gebeure het gister net voor 08:00 buite die privaat skool Brylin in Mimosastraat afgespeel.

Die polisie vermoed gisteroggend se voorval was ’n beplande hit.

Son verneem dit was die tweede aanval op die man vanjaar. Hy is na verneem word by ’n vorige geleentheid in die been geskiet.

Presiese besonderhede oor dié voorval was teen gister nog onbekend.

Die oorledene se vrou is nie in die voorval beseer nie, maar sy is na ’n hospitaal geneem vir ’n check-up.

Nadat nuus oor gister se voorval versprei het, is ’n boodskap aan ouers gestuur waarin hulle verseker is dat alle kinders en personeellede veilig binne die skool gehou word.

Daarin staan: “Die voorval buite die skool se hek het niks met die skool te doen nie.

“Hier is ’n baie sterk polisie-teenwoordigheid.”

Ten spyte hiervan het talle ouers inderhaas hulle kinders collect.

Die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad ondersoek die voorval.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters