8 dae gelede
Outjie dood ná skote klap
Moordtoneel: Die lyk van ’n jong man lê gister in Uitenhage.Foto’s: Theo Jeptha  ~ 

’N JONG man is helder oordag in ’n Uitenhaagse straat doodgeskiet.

Tientalle inwoners het die toneel omsingel om te kyk wie die slagoffer is.

Die voorval het volgens kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, gister 12:55 op die hoek van Acacia­laan en Kingfisher­rylaan in Rosedale gebeur.

Gepraat

“Die SAPD in Kamesh ondersoek klagte van moord en poging tot moord nadat ’n 21-jarige man noodlottig geskiet is.

“ ’n Tweede manlike slagoffer (32) is met ’n koeëlwond in die bobeen na die hospitaal geneem.”

Daar word beweer twee mans het gepraat met ’n derde man, wat in sy voertuig gesit het.

Twee verdagtes het die drie ge­nader en op hulle geskiet.

“Albei mans wat langs die voertuig gestaan het, is gewond. Die 21-jarige man is in die bolyf geskiet en die ander een in die been,” sê Swart.

Die motief vir die aanval is nog onbekend.

Die naam van die slagoffer wat dood is, sal bekend gemaak word nadat die formele identifisering afgehandel is.

Inwoners op die toneel het gefluister hulle herken die skieters nie.

  • Enige iemand met inligting word gevra om AO Andrew Hoffman te bel by 071 475 1956.

Inbellers mag anoniem bly. Alle inligting word streng vertroulik gehanteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters