6 maande gelede
Ouers wil nou skole toemaak
VIES OOR AFRIKAANS: Ouers en Afrikaanssprekende leerders maak gister hul misnoeë duidelik oor die gebrek aan ’n Afrikaans-onderwyser.FOTO’S verskaf  ~ 

DIE ouers van die dorp Paterson dreig om skole daar toe te maak.

Dit is omdat leerders die vak Afrikaans druip en die Oos-Kaapse onderwysdepartement (OKOD) nie ’n onderwyser vir Afrikaans aanstel nie.

Die Afrikaanssprekende ouers en leerders van die enigste hoërskool in Paterson, die Hoërskool Sandisulwazi, het gister hul misnoeë te kenne gegee omdat die OKOD hul versoek vir ’n onderwyser glo ignoreer.

“Ons het ’n groot probleem omdat ons kinders nie ’n onderwyser vir Afrikaans het nie. Hulle druip die vak omdat hulle nie onderrig ontvang nie,” het Alfred Salters, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, gesê.

“Die situasie is onder die aandag van die onderwys­departement gebring, maar dit het op dowe ore geval. Ons vra nou om onse kinders in hul moedertaal onderrig te gee.”

Hy het bygevoeg dat die skool een wit en agt Xhosasprekende onderwysers het.

Volgens hom is Leon Zea­land, die Afrikaanssprekende skoolhoof, en lede van die skoolbeheerliggaam verlede jaar weggejaag.

Zealand het Afrikaans van gr. 8 tot gr. 12 onderrig.

“Die leiers het vandag (gister) ’n vergadering gehad, maar van die onderwysers het leerders aangehits om die ouers van die skool af te jaag.

“Ons het die terrein verlaat, maar ons plan B, om die laerskool in die bruin woonbuurt terug te vat, in werking gestel. Dit word môre (vandag) 07:00 tot die uiterste gevoer.”

Die ander skool wat deur die ouers geteiken word, is die Laerskool Môre­son.

Salters het gesê die skool het 307 leerders, onder wie 64 Afrikaanssprekendes.

“Verlede jaar het die meeste kinders gedruip omdat hulle hul moedertaal gedruip het.”

Die OKOD is bewus van die situasie.

“Ons weet van die krisis. Ons is in die proses om onderwysers, wat afgetredenes insluit, te werf om Afrikaans as vak aan te bied,” het Mali Mtima, ’n woordvoerder van die OKOD, gesê.

Universiteite

“Ons onderhandel met hulle.”

Volgens hom het hulle Oos-Kaapse universiteite genader om nagraadse studente te identifiseer om die departement uit sy penarie te help.

Die Nelson Mandela-universiteit het teen laatmiddag nog nie gereageer op ’n navraag oor hoeveel studente in 2016 en 2017 hul studies met Afrikaans as hoofvak voltooi het nie.

Die skool was in 2016 ook in die nuus toe daar net een onderwyser vir ses vakke was. Daar was ook ’n algemene tekort aan onderwysers en net 41% van die matrieks het in 2015 die eindeksamen geslaag.

Salters het destyds gesê die skool kort ’n wiskunde­onderwyser. Die Afrikaansonderwyser het nie ná die vakansie teruggekeer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters