11 dae gelede
Ouers by toe 6-jarige sterf

HULLE baby het Vrydagaand voor hulle oë gesterf.

Jay-lin “Toetsie” Jantjies (6) van Helenvale is laas maand in die kop geskiet.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het die skietvoorval op 23 September vroeër bevestig.

Naidu het gesê die meisie het op die sypaadjie voor haar huis in Kobusweg gestaan toe die minstens ag skote omstreeks 17:00 afgegaan het.

’n Dwaalkoeël, wat verder as 100 m van Jay-lin se huis afgevuur is, het haar toe getref.

Sy het vermoedelik huis toe gehardloop toe die skote afgegaan het en het in die hek gaan staan.

Jay-lin se ma, René, sê die bullet het by haar voorkop ingegaan en is by haar agterkop uit. Sy sê daar was baie bloed.

Jay-lin moes ’n noodoperasie in ’n Baaise hospitaal ondergaan.

Dokters was ses ure in die teater besig om skrapnel uit haar kop te verwyder.

’n Gedeelte van haar skedel was heeltemal vermorsel en dokters het gesê sy sou later weer moes gaan vir ’n operasie om ’n nagemaakte skedel om haar brein te plaas.

Intussen het haar ouers, Randall en René, daagliks by hulle meisiekind in die hospitaal gaan kuier.

“Sy het goed gelyk. Die dokter het gesê sy is verby die ergste,” sê René geskok.

“Sy het respond en haar oë en haar hande beweeg. Ons het geweet sy gaan nog ’n rukkie daar lê, maar ons het verwag sy sou huis toe kom.”

Donderdag het Jay-lin se ouers egter gesien haar kop swel rondom die wond.

Toe hulle haar koppie oplig, het daar net bloed by die wond uitgestroom.

“Die nurses het ’n verband om haar kop gesit, maar dit nie weer afgehaal tot die volgende dag toe sy gesterwe het nie,” sê René.

Randall-hulle het Vrydag weer gaan kuier, maar dis toe dat Jay-lin se koors die hoogte in is en sy het begin fits kry het.

Randall gaan nie net die saak so los nie. Hy glo die hospitaal was nalatig en dat dit hulle kind se lewe gekos het.

Wat die ouers erg upset het, is toe die nurses hulle gesê het om nie te worry nie en dat hulle die kind self moet monitor deur neer te skryf wanneer sy fits kry en vir hoe lank dit aanhou.

“Die hartklopmasjiene het ook nie gewerk nie, so hulle kon haar nie reg monitor nie. In haar ward was daar ’n klomp geraas en kinders wat rondgehardloop het.

“ ’n Mens kan mos nie so ’n pasiënt in ’n besige, raserige saal sit nie?” sê-vra Randall.

Jay-lin het nog haar pa gevra vir water, toe kry sy weer ’n fit.

Goud

Skielik het die dokter daar aangekom en CPR toegepas.

Voor haar ouers se oë is sy oorlede nadat die dokter gesê het sy kan niks meer vir die kind doen nie.

“Ek het baie drome vir daai kind gehad.

“Hulle het goud van ons weggevat,” sê Randall hartseer.

Vandag moet die ouers die lykie gaan uitteken by die hospitaal.

Naidu het bevestig dat Jay-lin Vrydag oorlede is.

Intussen is een van die verdagtes (20) Donderdag gearresteer vir poging tot moord. Die klag is ná haar dood aangepas na ’n moordklag.

Naidu sê ’n intensiewe ondersoek in die area is geloods, maar die verdagte het hulle heeltyd gedodge.

“Op 3 Oktober het die Gelvandale-polisie se opsporingspan en speurders hom in Deverellweg gesien en agternagesit.

Hy is in Chamois-weg gearresteer,” sê Naidu.

Hy is ook aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ’n vuurwapen in ’n onverwante voorval.

Die verdagte sal binnekort in die Baaise landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Jay-lin laat haar ouers en drie broers agter. Sy was die jongste kind.

Speelmaats

Sy was ook in al die strate rondom haar huis bekend aan die gemeenskap as “Toetsie” en sy het baie speelmaats gehad.

Son het die hospitaal se naam weerhou totdat dié kommentaar lewer. 

doer: Randall Jantjies wys hoe ver van sy huis af die skietery plaasgevind het wat sy dogter noodlottig beseer het.Foto’s: Deon Ferreira
SKOK: Jay-lin Jantjies se ouers was by haar bed toe hulle jongste kind in die hospitaal dood is.FOTO VERSKAF
Net hier: ’n Maatjie staan waar Jay-lin Jantjies gestaan het toe ’n dwaalkoeël haar in die kop getref het.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters