2 maande gelede
Ouens met tik in voertuig betrap
GEVANG: Vier verdagtes is in aanhouding vir die besit van tik met ’n straatwaarde van R327 000.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE cops in Jeffreysbaai het vier verdagtes in hegtenis geneem nadat tik met ’n straatwaarde van R327 000 in hulle besit gevind is.

Beslag is ook gelê op die voertuig wat gebruik is om die dwelms te vervoer.

Sers. Majola Nkohli, ’n polisiewoordvoerder, sê Maandag omstreeks 06:30 het die polisie se misdaadvoorkomingseenheid in Jeffreysbaai inligting ontvang dat tik in ’n blou Toyota Corolla Quest via St. Francisstraat, Jeffreysbaai, vervoer word.

Volgens Nkohli het die polisiebeamptes ’n ongemerkte voertuig gebruik om die inligting op te volg.

Oomblikke later het die polisie die voertuig met vier insittendes in St. Francisstraat gewaar.

Nkohli sê die polisie het daarin geslaag om die voertuig van die pad af te trek en dit te deursoek.

In die voertuig het die cops op 1,09 kg tik beslag gelê.

Onpadwaardig

Daar is ook op die voertuig beslag gelê vir nader ondersoek.

Nkohli sê ’n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring die voertuig is onpadwaardig.

Die vier verdagtes wat aangekeer is, is tussen die ouderdomme van 29 en 36.

Hulle sal binnekort in die landdroshof op ’n klag van die besit van tik verskyn.

Brig. John Lebok, Humansdorp­ se gebieds­bevelvoerder, sê dit is verblydend dat sommige inwoners saam met die polisie werk om drugs van die strate verwyder te kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters