7 maande gelede
Oue oukei ná ou ringe try afbyt
MISDAADTONEEL: Die polisie probeer nog die onderskeie verdagtes aankeer wat vir drie huisrooftogte verantwoordelik is.  ~ Foto ter illustrasie: Verskaf

DIE Mountweg Cluster se trio-taakspan soek na die mense wat vir drie afsonderlike huisrowe verantwoordelik is.

Die eerste voorval het Sater­dag in die vroeë oggendure in Martinstraat in Charlo plaasgevind.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê die klaer se 90-jarige ma het Saterdag omstreeks 01:10 wakker geword en uitgekyk toe sy die hond hoor blaf.

Sy het gesien die garage-deur staan oop.

Toe sy die kombuisdeur oopmaak, het ’n onbekende man haar gekonfronteer.

Die man het ’n swaard by hom gehad en die vrou weer die huis ingedwing.

Nog twee mans het die huis binnegekom.

Volgens Naidu het die 64-jarige klaer gaan ondersoek instel, maar hy is gedreig en terug by sy kamer ingeforce.

Die mans het aangedring op geld.

Een van die mans het getry om die vrou se ringe af te byt, maar hy was onsuksesvol.

Die verdagtes het toe die klaer en sy ma met elektriese koorde vasgebind en hulle in die kamer gelos.

Die verdagtes het op die vlug geslaan met ’n klein bedrag, klere, ’n televisiestel, twee selfone, ’n kluis waarin ’n .38 Spe­cial-rewolwer is en die vrou se Chev Spark.

Volgens Naidu is die Spark in Prospect Road in Walmer gevind.

Die bejaarde vrou het geringe beserings aan haar vingers en arm opgedoen.

  • In ’n voorval Saterdag in Sigcawustraat in die informele nedersetting Walmer het die 33-jarige klaer omstreeks 03:50 na buite gegaan om die toilet te gebruik.

Sy girlfriend het toe ’n geraas by die voordeur gehoor. Iemand het geskree die deur moet oopgemaak word. Toe sy die deur oopmaak, het drie onbekende mans binnegekom en na die klaer gevra.

Toe sy hulle sê hy is nie daar nie, het hulle twee selfone en geld gevat en op die vlug geslaan.

Volgens Naidu het die verdagtes buite ’n paar skote afgevuur.

Terwyl die polisie op dié toneel was, het ’n 29-jarige lid van die publiek na vore gekom en gesê die drie verdagtes was kort voor dié rooftog by sy huis en het skote deur sy slaapkamervenster geskiet.

Volgens hom het hulle ook daarop aangedring dat hy die deur oopmaak.

Toe hy dit doen, het hy een van die verdagtes herken. Hulle het ook aangedring op geld.

Toe hy vir hulle sê hy het nie geld nie, het ’n fight uitgebreek. Hulle is uiteindelik daar weg sonder om enige iets te steel.

Die man het toe gesien die verdagtes is op pad na die klaer se huis.

Die taakspan ondersoek twee afsonderlike sake van huisroof.

Gehamer

Die polisie waarsku die publiek om nie hulle deur vir vreemdelinge oop te maak nie. Veral nie in die nag nie en ook nie wanneer aanhoudend aan die deur gehamer word nie.

As die publiek iets verdags deur hulle venster sien, moet hulle die polisie bel, die bure laat weet of ’n sekerheidsmaatskappy ontbied. Volgens die polisie is dié opsies beter as om self na buite te gaan.

Cops sê verder die publiek moet note vat van ’n hond wat blaf omdat hulle baiekeer hulle eienaars alert dat iets fout is.

Enige een wat die polisie kan help om die verdagtes in albei sake op te spoor, kan AO Stephen Bustin by 082 303 0572 bel. Mense met wenke kan ook die polisiestasie in Walmer se by 041 509 4006 bel, of die naaste polisiestasie.

Stop Misdaad kan bereik word by 086 001 0111.

Alternatiewelik kan die MySAPS app op ’n smartphone gedownload word.

Alle inligting sal vertroulik gehanteer word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters