3 maande gelede
Oud, jonk kan beslis pronk!
GEE OM: Noleen Moodley en die res van haar community wil hulle buurt verfraai.  ~ Bryan Goliath

HULLE is ’n trotse gemeenskap en hulle duld nie morsigheid in die area nie.

Daarom het die inwoners van Uitbreiding 22 in die Baai Saterdagoggend vroeg saamgekom om ’n verskil in hulle gebied te maak.

Oud en jonk het grawe, harke en pikke gevat en die onkruid op die brug van Femberstraat skoongemaak. Noleen Moodley, ’n gemeenskapsleier, sê dis die begin van baie positiewe aktiwiteite.

“Ons wil graag die area ’n lus vir die oog maak. Mense moet graag hier wil kom besoek aflê.

Hegte

“Ek is bly om te sien almal is so ywerig om te help. Dit kan net goeie dinge inhou vir almal wat hier woon.

“Ons is so ’n hegte gemeenskap dat dié wat nie vanoggend hier kon wees nie, verskoning gemaak het.”

Moodley sê hulle het ’n challenge gehad met swart­sakke om die vullis in te gooi.

Die geld om die sakke te koop, het uit hulle eie sak gekom, sê sy.

Heelparty kinders het aan die skoonmaakprojek deelgeneem.

ELKE SKEP HELP: Michael Meyer offer sy Saterdagoggend op om ook sy deel te kom doen. Foto: Bryan Goliath

Volgens Moodley beteken dit vir haar baie dat almal so saamstaan.

“Dit is ’n Saterdagoggend en almal het iets om te doen, maar hulle sien kans om hulle hande vir ’n goeie doel vuil te maak.

“Ons het ook ’n Whats­App-groep in die gemeenskap waardeur ons mekaar op hoogte hou van gebeure in die area. Dis ook goed en lekker om te sien dat die motoriste wat verbyry ons die thumbs up gee.”

Toe Son aankom by die plek waar skoongemaak word, was dit verskriklik warm en bedompig. Dit het nie dié mense afgeskrik nie.

Moodley hoop dat ander areas in die Northerns ook só eienaarskap neem van hulle gebied.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters