Verlede jaar
Ou vas ‘wat 3 kids vermoor’
DEACON VAN ROOYENFOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE Satan se kind (34) is gevang vir die driedubbele moord op kinders in Booysenpark in die Baaise noordelike gebiede.

Dié drie moorde het inwoners vroeg in November geruk, veral omdat onskuldige kinders dood is.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Ná die genadelose pogings van ons polisiebeamptes om die verdagte op te spoor wat betrokke was by die drie moorde en vier pogings tot moord in ’n huis in Booysenpark, het lede van die Bethelsdorp-taakspan hom gearresteer.”

Twee kinders is op 2 November om en by 21:20 in die huis doodgeskiet en nog vyf gewond.

Twee mans het die deur van die huis in Capuletstraat afgeskop.

Hulle het toe na bewering ’n goue ketting van ’n 26-jarige slagoffer se nek afgeruk en ook twee selfone gevat.

Daar word verder beweer dat die verdagtes toe op die mense losgebrand het.

RUAN WILLEMSE

Die twee kinders wat op die toneel dood is, was Ruan Willemse (8) en Deacon van Rooyen (16).

Chadwin Calvert (17), een van die gewondes, is in die hospitaal aan sy wonde dood.

Lede van die polisie se provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad in Port Elizabeth ondersoek aanklagte van moord, poging tot moord en gewapende roof.

“Gedurende die ondersoeke het die polisie die 34-jarige verdagte gesoek. Die Bethelsdorp-taakspan is ook gesê om te help,” sê Naidu.

“In die laaste drie dae is verskeie huise deursoek.

“Op 18 November (Sondag) het polisielede ’n verdagte groen Golf in Booysenpark gewaar en die voertuig gestop. Die gesoekte verdagte was in die voertuig.”

Polisielede het ’n verdagte (20) wat saam met hom in die kar was, ook gearresteer.

Die tweede verdagte is gesoek vir ’n moord wat in September gepleeg is en ’n saak van poging tot moord wat in Julie gebeur het.

Naidu het bygevoeg albei verdagtes is lid van die Satan-bende.

CHADWIN CALVERT

Hulle sal na verwagting vandag in die Baaise landdroshof verskyn.

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Liziwe Ntshinga, het die arrestasie van die Booysenpark-verdagte verwelkom.

“Misdadigers moet weet hulle kan hulle vryheid net vir ’n kort tyd geniet, want ons sal vir hulle kom.

“Sulke koelbloedige en sinnelose aanvalle op wetsgehoorsame burgers sal nie geduld word nie.

“Ons het dag en nag gewerk in ’n poging om ’n deurbraak in die saak te maak.

“Met die bystand van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), ons vennoot, sal ons seker maak dat misdadigers vir ’n lang tyd uit die gemeenskap verwyder word,” het Ntshinga bygevoeg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters