13 dae gelede
Ou soek ná hy seun doodry
Jesirano Hobanie  ~ Foto Verskaf

DIE bestuurder wat vir die dood van Jesirano Hobanie (9) van Malabar in die Baai verantwoordelik is, is steeds missing in action.

Verder weet sy boetie wat op die toneel was toe ’n kar Jesirano getref het, nou nog nie hy is dood nie.

Dit is nou ag dae vandat ’n voertuig Jesirano hard gestamp het terwyl dit volgens ’n ooggetuie in Beetle­stoneweg, Gelvandale, af gejaag het.

Gehardloop

Brig. Tembinkosi Kinana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die voorval het op 28 Oktober omstreeks 13:00 gebeur.

“Daar word beweer Hobanie het saam met sy broer en ’n vriend in Beetlestoneweg geloop.

“Voorts word beweer Hobanie het skielik oor die pad gehardloop toe ’n swart Volkswagen Golf hom tref.

“Die voertuig het nie nommerplate gehad en het nie ná die ongeluk gestop nie.”

Kinana sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Die ou is nog nie gevind nie en die mense wat daardie dag gesien het wat gebeur het, het nie die driver se gesig herken nie.

Nadat Jesirano getref is, het ooggetuies dadelik na hom gehardloop en net gesien hoe die driver in Kobusweg af jaag.

Hulle het die polisie en ambulans ontbied. Jesirano het nog ’n rukkie lank ’n polsslag gehad.

Nadat die paramedici hom by die ambulans ingedra het, is hy dood verklaar.

Juwayne (7), Jesirano se jonger broer, was saam met hom en het alles gesien. Hy is dadelik huis toe geneem, weg van die toneel af.

Jesirano se mamma, Shevonne (34), het aan Son gesê sy hoop die driver word gevang en sy oorweeg dit sterk om regstappe teen hom te doen.

Sy het erken Jesirano was nie daardie dag by die skool nie.

“Ek voel nou baie hartseer en kwaad oor wat gebeur het. Ek kan steeds nie eet of in die aande slaap nie.

“Ek het vanaf die dag op die toneel nog nie weer van die polisie gehoor nie. Ek voel hulle kan meer doen.”

Tot tyd en wyl bly She­vonne en Juwayne by haar ma in Zimdahlstraat, Gelvandale.

Juwayne is onder die indruk Jesirano lewe nog en is by hulle huis in Malabar Uitbreiding 6. Hy vra sy ma kort-kort wanneer hulle hom gaan haal.

Shevonne kon nog nie die moed bymekaarskraap om hom te sê nie en beplan om by die begrafnis aan hom te verduidelik wat gebeur het.

Die Primêre Skool Rufane Donkin sê Jesirano was nie gereeld aanwesig nie, maar hy het nogtans in die onnies se harte gekruip.

Geskok

Hy was in gr. 2 daar.

Volgens die skool se departementshoof in die grondslagfase, Mari Brink, is sy klasmaats geskok.

“Hy was ’n nederige seun in die klas en was nie ’n groot geselser nie. Hy was rustig en ingetoë en ek het nie ’n probleem met hom gehad nie,” sê Sarah Smith, Jesirano se klasonderwyseres.

“Ek het met die kinders gesels oor wat gebeur het. Wanneer ’n leerder van die skool sterf, het ons ’n reëling dat die kinders elkeen R1 of R2 bring sodat ons die ouers kan help.”

In haar klasregister het sy ’n prentjie geteken van ’n mannetjie wat huil en langs sy naam is geskryf “oorlede”.

Jesirano sal môre in die Malabar-begraafplaas begrawe word.

  • Enige iemand wat die polisie kan help om die bestuurder van die Golf op te spoor, word gevra om die Gelvandale-polisie te bel by 041 402 2018.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters