17 dae gelede
Ou kry 2x life vir kid se rape
Amor van Greunen  ~ Foto Verskaf

’N KINDERVERKRAGTER is dié week twee lewenslange tronkvonnisse opgelê vir die verkragting van ’n 15-jarige meisie in Julie laas jaar.

Amor van Greunen (51) is in die Baaise streekhof gevonnis.

Anelisa Ngcakani, streekwoordvoerder van die Na­sionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die meisie het saam met haar ma en jonger broer in ’n plek van veiligheid in Port Elizabeth gebly.

Genooi

Van Greunen en sy vrou het die plek van veiligheid gereeld besoek, aangesien hulle liefdadigheidswerk gedoen het.

In 2018 het Van Greunen en sy vrou van die meisie begin hou en haar gereeld na hul huis genooi om naweke daar deur te bring.

’n Ouer-dogter-verhouding is toe gebou tussen die meisie en die Van Greunens tot by ’n punt waar sy hulle in haar vertroue geneem en hulle vertel het dat haar oom haar op tienjarige ouderdom verkrag het.

Die Van Greunens was baie gaaf met die tiener­meisie en het selfs vir haar klere gekoop.

Die ouer-dogter-verhouding is egter tussen 26 en 27 Julie laas jaar geviolate.

Van Greunen het die meisie vir die naweek by die plek van veiligheid gaan haal. Sy vrou was daardie naweek in Oudtshoorn.

Hy het vir haar klere en alkohol gekoop. Van Greunen het haar aangemoedig om die alkohol te drink en haar gesê dis veiliger om in sy geselskap te drink as in die geselskap van haar vriende.

Nadat sy gedrink het, het hy haar twee keer verkrag.

Op 27 Julie 2019 het die meisie haar onderwyser via ’n WhatsApp-boodskap van die voorval vertel.

Die onderwyser het haar gaan haal en onmiddellik na die Algoapark-polisiestasie geneem. Van Greunen is dieselfde dag in hegtenis geneem.

Adv. Mxolisi Bebula, staatsaanklaer, het aan die hof gesê Van Greunen was in ’n vertrouensposisie omdat ’n band tussen hom, die kind en die kind se ma opgebou is en daarom het hy sy mag misbruik.

Hy het bygevoeg daar is geen wesenlike en dwingende omstandighede wat die hof sal laat afwyk van die minimum vonnis van lewenslange tronkstraf nie.

Gedurende die vonnisverrigtinge het landdros Kenneth Cooney ook Bebula se woorde beklemtoon deur te sê daar was geen beduidende of oortuigende omstandighede om hom van die minimum vonnis te laat afwyk nie.

Cooney het gesê Van Greunen het die jong meisie se persoonlike omstandighede uitgebuit.

Hy sê die man het van die meisie misbruik gemaak omdat hy geweet het sy smag na die liefde en teerheid van ’n vaderfiguur.

Cooney sê daar was ’n verhouding van vertroue wat ontwikkel het tussen Van Greunen en die meisie en sy het ’n safe haven in Van Greunen se huis gevind.

Die landdros sê toe Van Greunen die meisie verkrag het, is alles daardie dag van haar weggeneem.

Cooney het gelas dat die twee lewenslange vonnisse samelopend uitgedien word.

Livingstone Sakata, waarnemende direkteur van openbare vervolging, sê die NVG waardeer die streng vonnis wat die landdros opgelê het.

Sakata sê dit stuur ’n sterk boodskap uit dat die howe nie die verkragting van kinders sal duld nie.

Hy het bygevoeg die NVG waardeer die harde werk van die staatsaanklaer en die ondersoekspan wat aan die saak gewerk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters