3 maande gelede
Ou kry 20 jaar vir mesmoord
Romano Blaauw Foto: theo jeptha  ~ 

’N PA van drie wat sy girlfriend verlede jaar doodgesteek het, is gister vir 20 jaar tronk toe gestuur nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Die staat het Romano Blaauw (30) se pleit van skuldig op die moordklag aanvaar.

Die drie klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, ’n klag van opsetlike saakbeskadiging en ’n klag wat verband hou met die besit van ’n gevaarlike wapen waarop hy aanvanklik tereggestaan het, is gister teen hom teruggetrek.

Verslaaf

Blaauw, wat van Schauder­ville is, se skuldigbevinding spruit uit ’n voorval op 6 Augustus 2018 toe hy sy girlfriend, Millesem van Dyk, met ’n mes doodgesteek het.

Luidens sy pleitooreenkoms het hy Van Dyk 15 jaar gelede ontmoet. Volgens hom het hulle ’n dogtertjie van twee jaar en ses maande saam.

Blaauw het gesê vyf jaar voor sy inhegtenisneming het hy begin tik gebruik en verslaaf geraak daaraan.

Volgens hom het hy ná die geboorte van hulle kind begin bekommerd raak oor Van Dyk omdat sy simptome getoon het van dwelmgebruik.

Sy het ontken sy gebruik drugs.

Volgens hom het Van Dyk destyds voor hulle kind se geboorte vir ’n ruk Johannesburg toe gegaan waar sy aan kokaïen verslaaf geraak het.

Volgens Blaauw het Van Dyk – nadat sy teruggekeer het Baai toe – hom belowe sy is nie meer verslaaf nie.

Hy sê ses maande ná die kind se geboorte het hy besef sy is weer deurmekaar met drugs.

Volgens hom het sy die kind begin verwaarloos. Hy het gesê somtyds sou sy vir twee weke skoonveld verdwyn sonder om reëlings vir hulle kind te tref.

Die welfare het eventually die kind uit haar sorg verwyder.

Volgens hom het Van Dyk geen belangstelling in hulle kind getoon nadat sy pa uiteindelik custody oor die kind gekry het nie.

Op die dag van die voorval was sy kind by hom en is hulle na Van Dyk toe sodat die kind haar ma kan sien.

Volgens hom het Van Dyk met hom begin stry en op hom gevloek.

Sy het ook tee oor hom uitgegooi.

Blaauw het gesê daar was ’n scuffle tussen hom en Van Dyk.

Volgens hom was hy in daardie stadium baie kwaad. Die probleme wat Van Dyk in sy lewe veroorsaak het, het vir hom net te veel begin word.

Blaauw het gesê al wat hy wou doen, was om die situasie met betrekking tot hulle kind met haar te bespreek.

Volgens hom het hy sy mes uitgepluk, Van Dyk drie of vier keer daarmee gesteek, haar weggestoot en teruggedraai om by die huis uit te gaan.

Sy het hom toe met die koppie agter teen die kop geslaan.

Volgens Blaauw was dié hou teen sy kop vir hom die laaste strooi.

Hy het haar toe hard gesteek in die middel van haar borskas. Sy het inmekaargesak en hy is toe uit by die huis.

Hy is die next dag in hegtenis geneem nadat Van Dyk beswyk het aan die beserings wat hy haar toegedien het.

Adv. Garth Baartman het aangekla.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters